Dwelmhandelaar gevonnis oor R140 miljoen se heroïen

Argieffoto

’n Dwelmhandelaar is Woensdag in die Pongola-streekshof in KwaZulu-Natal tot 20 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy met dwelms ter waarde van R140 miljoen in sy besit betrap is.

Robert Makhumulo (52) is vroeër vanjaar in hegtenis geneem nadat die Valke in Richardsbaai op 27 Januarie inligting ontvang het van ’n vragmotor wat glo dwelms van Swaziland na Johannesburg vervoer.

Die Valke het tydens ’n blitsoptrede ’n vragmotor wat dié beskrywing pas, voorgekeer en deursoek waarna hul op sowat 200 kg heroïenpoeier met ’n markwaarde van sowat R140 miljoen beslag gelê het. Die dwelms was in geheime kompartemente in die vragmotor weggesteek.

Makhumulo is op die plek in hegtenis geneem en aangekla.

Genl.maj. Jabulani Zikhali, hoof van die Valke, sê hy hoop dat dié vonnis “as waarskuwing sal dien vir diegene wat betrokke is by dwelmhandel in Suid-Afrika”.

“Ons is vasbeslote om diegene wat by die vervaardiging, verskaffing en handel in onwettige dwelms in die land betrokke is, vas te trek.” Zikhali het verder gewaarsku dat enigeen betrokke by enige misdrywe van dié aard streng wetstoepassing deur die Valke asook die howe kan verwag.

In ’n onverwante voorval het die Valke in Pietermaritzburg ook Woensdag drie verdagtes in verband met dwelmhandel in hegtenis geneem. Die inhegtenisnemings is uitgevoer met behulp van beamptes van die provinsiale misdaadintelligensie en die Pietermaritzburgse honde-eenheid teen dwelmhandel.

Dié trio is in die Newcastle-omgewing vasgetrek en sal vandag in die plaaslike landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Leon ·

200kg..20 jaar…..belaglik! Hoeveel mense se lewens sou dit vernietig het??

Santjie ·

hulle moes hom sommer alles laat gebruik het – MM wanneer hoor ons van die oud sokkerspeler wat ‘n “fabriek” gehad het – ek dink julle het laas week daaroor berig, maar kon toe nog nie ‘n naam noem nie omdat hy nog nie in die hof verskyn het nie. As dit nie MM was wat berig het nie, vra ek verskoning.

SjN ·

Indien hy in Botswana gevang sou wees, het sy kop reeds gerol. Kriminele weet dat hul in SA floreer.

jakkie ·

dis net jammer hulle noem nie die regte mense se name wat uit hulle pad gegaan het om die persoon te vang nie

Andre ·

Die mense is moordenaars. Leer by Maleisië en Singapoer hoe om hierdie mense te stop en red ons mense en kinders se lewens en stop hul hartseer.

Elna ·

Ek is bly die dwelmhandelaar is vas getrek. Ek sal net soos ander baie graag wou weet wat word gemaak met daardie dwelms as dit konfuskeur word? Waarna toe gaan dit? Dit is n raaisel en tog n belangrike vraag aangesien Suid Afrika kriool met dwelmhandelaars in hierdie land. Die strawwe is te lig vir daardie tipe mense swaarder strawwe moet aan hulle opgelê word want hulle is almal moordenaars.

humor ·

Andrei beslis, waarom nie???? Waarom met die probleem tot die eindtyd sukkel as dit spoedig gestop kan word.

Ivan Atterbury ·

Die doodstraf sou meer toepaslik gewees het. Afgesien van lewens wat verwoes kon word, sal sy verblyf die belasting betalers nou 20 × 12 × 10 000 rand kos, inflasie nie by gereken nie.

Herman ·

Ek wonder dikwels wat die effek sal wees indien dwelms gewettig sou word. Sal dit die prys sodanig laat val dat niemand dit meer sal wil smokkel nie? Want dit lyk nie asof dit enige effek het om dit onwettig te maak nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.