Dwelmlaboratorium danksy wenk ontdek

Foto: SAPD.

Drie mense is Sondag in die vroeë oggendure in Kaapstad in hegtenis geneem nadat polisiebeamptes op ʼn wenk van die publiek gereageer en ʼn dwelmvervaardigingslaboratorium ontdek het.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie in Milnerton het ʼn leidraad van die gemeenskap van beweerde dwelmverwante aktiwiteite by ʼn huis in Dilutaweg in Sunset Beach opgevolg.

“Drie verdagtes is op dwelmverwante aanklagte in hegtenis geneem,” het Van Wyk gesê.

Tien polisiebeamptes het die perseel net ná middernag deursoek en op vier Mandrax-tablette, drie Ecstasy-tablette en ʼn klein hoeveelheid “magic mushrooms” afgekom.

“ʼn Geheime laboratorium met verskillende chemikalieë en dwelms is daarna in een van die kamers van die huis ontdek,” het Van Wyk gesê.

Drie verdagtes, onderskeidelik 22, 38 en 53 jaar oud, is in hegtenis geneem. Die waarde van die dwelms waarop daar beslag gelê is, is nog nie bekend nie.

Die verdagtes sal Dinsdag in die Kaapstadse landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Vermeende ·

Hoekom steun die SAPD altyd so swaar op die publiek vir inligting soos in die geval, wat het van hulle inviltrasie en goeie speurwerk geword.
As die publiek nie die moeite gaan doen en die SAPD bel nie dan gaan dit lyk of SA n land is met geen misdaad nie want op hulle eie is die SAPD net geskik om te ry tot by KFC!

Alida ·

Is dit toe daar en dan vernietig. Mens hoor net nooit daardie deel nie.

Deon ·

Waar rapporteer n mens gevalle waar daar dwelms betrokke kan wees? Die huis skuins oorkans ons is baie verdag. Daar stop gereeld luukse motors waarna iemand baie vinnig uit die huiskom. n Vinnige transaksie vind plass, paar sekondes en die voertuig is weer weg. Ek het dit al by ons plaaslike Polisie aangemeld, maar niks is nog geondersoek nie. Die transaksies duur voort.

Susara ·

Dankie Alida, ek wil ook graag weet. My seun het verlede jaar vir die vierde of vyfde keer uit rehabilitasie gekom en die soort plekke, klink vir my in ons eie woongebiede soos Deon ook beskryf, is vir gewoonte-dwelm-gebruikers alom bekend. Ek hoop van harte die plekke word vernietig, nie net skoongemaak nie, maar vernietig tot op fondasie vlak, as daar nie ‘n dak en vloer is nie, is dit baie moeilik om van die goed te vervaardig en of te stoor. En ja, ek weet dit is nie so eenvoudig nie, maar dit sal dan al iets goeds wat gedoen is. Maroela Media, ek hou die berig dop vir enige nuus oor verdere ontwikkeling in die saak soos die name van die drie, wat hulle daar vervaardig het, vonnis oplegging, Ens. By voorbaat dankie, Deon, jy kan ook die Narkotieka Afdeling in Silverton Pretoria skakel, hulle nr is op die web.

Susara ·

Louisa, dit is nou nie goeie nuus nie, gits, sal ons ooit die werklike waarheid daaragter hoor? Borgtog betaal met fondse inkomstig vanaf dwelm verkope? Is daar nie ‘n wet of reëls wat bepaal dit mag nie? Name ook nog nie bekend. En nou gaan hulle maar net weer aan waar hulle opgehou het, koop nuwe toerusting Ens. Ai,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.