Dwelmmuil se baba keer terug na Suid-Afrika

Argieffoto (repeatcrafterme.com)

Argieffoto (repeatcrafterme.com)

‘n Suid-Afrikaanse dwelmmuil se nege maande oue baba wat in ʼn tronk in Brasilië gebore is, is Donderdag na Suid-Afrika teruggebring.

“Dit is die derde Suid-Afrikaanse baba wat die afgelope 10 maande van Brasilië af teruggebring word,” het Lumka Oliphant, woordvoerder van die departement van maatskaplike ontwikkeling gesê. Die departement moet nog twee babas van Brasilië af terugbring.

“Suid-Afrika is verplig deur die Kinderwet om alle Suid-Afrikaanse kinders wat in die buiteland in nood verkeer, na die land terug te bring,” het Oliphant gesê. Sy sê babas wat in Brasiliaanse tronke gebore word, kan tot ses maande lank ná hul geboorte by die ma bly.

Altesaam 13 kinders is sedert 2008 uit verskeie oorsese gevangenisse na Suid-Afrika teruggebring. “Die kind wat vandag terugkeer, sal by familielede tuisgaan,” het sy bygevoeg. Sommige van die kinders word in pleegsorg of by familielede geplaas. “Die departement word deur die kind se ma gelei om te bepaal waar die kind geplaas moet word.”

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, het vroue gemaan om nie in die lokval van dwelmhandel te trap nie.

Inligting oor die ma van die nege maande oue baba is nie dadelik beskikbaar nie. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.