“Dwelmmuile” in Bangkok soek privaatheid

Monica Meere en Johannes Ben Botha

Monica Meere en Johannes Ben Botha

Die twee Suid-Afrikaners wat die afgelope maand by die Bangkok Internasionale Lughawe in hegtenis geneem is in verband met dwelmhandel, het Suid-Afrikaanse beamptes versoek dat hul privaatheid gerespekteer moet word.

Nelson Kgwete, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge, het Woensdag aan Maroela Media gesê Suid-Afrikaanse beamptes het Dinsdag Johannes Ben Botha (34) en Monica Meere (34) in aanhouding gaan besoek om te bepaal of alles in orde is. “Hulle grootste versoek was dat daar nie oor hul welstand aan die Suid-Afrikaanse media gekommunikeer moet word nie,” het Kgwete gesê.

Kgwete het gesê daar is in hierdie stadium geen duidelikheid oor hoe lank die twee Suid-Afrikaners daar aangehou gaan word nie, en dat strafregtelike stappe teen hulle geneem word.

Maroela Media het vroeër berig doeanebeamptes het verlede Woensdagoggend glo meer as 2 kg kokaïen ter waarde van R2.6 miljoen in ʼn versteekte kompartement van Botha se bagasie opgespoor. Botha het van Johannesburg na Bangkok gevlieg.

Maroela Media het ook berig dat Meere, ʼn ma van Vanderbijlpark, op 3 April by dieselfde lughawe in hegtenis geneem is nadat sy met kokaïen ter waarde van bykans R8 miljoen betrap is. Sy het met Qatar-lugredery van Johannesburg na Thailand gevlieg om klere te koop wat sy weer in Suid-Afrika wou verkoop. Sy voer aan die sjokoladebokse, waarin die dwelmmiddels versteek was, behoort aan ʼn vriend wat haar versoek het om dit aan ʼn mede-Suid-Afrikaner in Thailand te gee.

Lees ook:
Twee SA’ners in Thailand vas vir dwelms

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rebel ·

Martha, jy het nie ‘n idee wat daar gebeur het nie. Sy is onskuldig en ek het al die bewyse klaar aan haar prokureer in Bangkok gestuur. Dis mos lekker om God se werk oor te vat en te oordeel sonder dat jy weet wat aan gaan. Wie gee jou die reg om te oordeel voor jy die feite het?

Kom ek lig jou gou in oor wie sy werklik is, hierdie jong dame maak elke dag ‘n verskil in mense se lewens wat deur die algemene publiek gesien word as skuim of slegte mense. Sy is een van die grootste christene wat ek ken en glo my, sy haat drugs net soos die volgende mens.

Sy is die tipe persoon wat haar laaste sente sal gebruik om vir iemand ‘n brood te koop. Sy werk met tienners wat in die moeilikheid is, mense wat selmoord neigings het en met mense wat REGTIG wil opstaan nadat die lewe hul plat geslaan het.

Voor jy oordeel, kry jou feite reg, dis baie lelik om sommer net aan te neem sy is skuldig. Julle mense maak afleidings en dit kan mense baie seer maak.

Ek stem saam dat drugs mense verwoes en dat daar ‘n oorlog teen dit moet wees maar asseblief, hou op oordeel en begin vir hierdie vrou bid. Sy was op pad om die Here te dien in Bangkok toe sy ‘n “victim” geword het van korrupsie en misdaad.

Dis al wat ek kan uitlaat maar glo my, al die bewyse is daar dat sy in ‘n lokval gelei is deur mense wat reeds agter tralies sit. As jy nog iets wil weet, kan jy my email ek sal jou vertel wat ek kan maar ek kan nie te veel se nie.

Hoop jy het ‘n lekker dag.
Rebel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.