Dwelms in kombuiskaste uitgesnuffel

Die Mandrax-pille wat in die kombuiskaste gevind is (Foto: Verskaf)

Die metropolisie in Kaapstad het die afgelope week altesaam 113 mense aangekeer en 2 475 boetes tydens patrollies en klopjagte opgelê.

Een van die metropolisie se groot suksesse was tydens ʼn misdaadvoorkomingspatrollie waar vyf verdagtes Sondag in hegtenis geneem is vir die onwettige besit van dwelms en ammunisie op Lansdowne in die Moederstad.

Volgens JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het die metropolisie inligting van lede van die publiek ontvang oor onwettige dwelmaktiwiteite wat by ʼn perseel in die Lansdowne-omgewing plaasvind.

“Metropolisiebeamptes het met die nodige toestemming die perseel deursoek – met behulp van hul twee polisiehonde, Khaos en Leia,” bevestig Smith.

“Die lede het dwelms in die kombuiskaste gevind. Hulle het ook ammunisie in die agterplaas agter ʼn asblik aangetref.”

Die minderjarige verdagtes is in hegtenis geneem en is tans in aanhouding by die polisiekantoor in Lansdowne.

Beamptes het beslag gelê op 59 patrone en 35 mandrax-tablette.

Beamptes het Saterdag agt verdagtes in die Strand- en Lwandle-gebied in hegtenis geneem vir verskeie misdade – waaronder bestuur onder die invloed van alkohol, die besit van dwelms, die besit van ʼn gevaarlike wapen, ongehoorsaamheid aan ʼn wettige opdrag en oproerige gedrag.

Vrydag het beamptes twee mans in Woodstock opgemerk wat op ʼn verdagte manier opgetree het.

Een van die polisiehonde wat by die operasie betrokke was [Foto: Verskaf]

“Die duo het weggehardloop toe hulle beamptes sien aankom. Die beamptes het hulle agternagesit. Tydens die jaagtog het een van die verdagtes ʼn vuurwapen uitgepluk en oor ʼn muur in ʼn veiligheidsoord gegooi.

“Beamptes het die vuurwapen teruggekry en gevind dat dit nagemaak was.”

Die 29-jarige man is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van skerp ammunisie, die besit van ʼn nagemaakte vuurwapen en die besit van dwelms. Dit is later deur die Woodstock-polisie bevestig dat die verdagte op parool vrygelaat is vir huisbraak en verwante aanklagte.

“Die inhegtenisnemings van gewoonte-oortreders bied ʼn ware uitdaging aan ons beamptes. Ons beamptes neem gereeld verdagtes in hegtenis wat uit is op parool of ʼn misdaadrekord het. Ons moet regtig begin fokus op die verskerping van ons strafregstelsel, maar ook ons pogings om te verhoed dat diegene wat op parool vrygelaat word, terugval in ʼn lewe van misdaad.”

Die Stad Kaapstad se verkeersdienste het verder beslag gelê op altesaam 103 voertuie en 135 selfone, asook 65 895 boetes uitgereik. Verkeersbeamptes het altesaam 70 verdagtes in hegtenis geneem vir verskeie motor- en padveiligheidsoortredings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

AW ·

Waarheid is

Dit sal nooit gestop word nie !!

Die MENS, wil hom/haar self vernietig !!

Blykbaar volgens hulle n “Victimless Crime”

Baie Slim mense daardie !!

SomeOne ·

soveel boetes, arrestasies, inhegtenisnemings, etc, in die kaap, waar staan tshwane in die ry

Elinette ·

Ver vóór die Moederstad … of soos ou vervelige Dawie die Kabouter (Dawie Rood, Efficient Groep) sê … “Slaapfontein”.

Swerwer ·

Mag hierdie Metropolisie lede van Kaapstad beloon word vir hul goeie werk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.