Dwelms, renosterhoring en leeutande op lughawe gevind

Argieffoto

Wetstoepassers by die Internasionale Lughawe OR Tambo het ʼn besige paar dae agter die rug waartydens daar op ʼn verskeidenheid onwettige goedere beslag gelê is, waaronder kokaïen, renosterhoring, leeutande en leeunaels.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn 38-jarige vrou is Dinsdagoggend in hegtenis geneem toe sy vanuit São Paulo in Johannesburg geland het nadat die polisie ʼn wenk ontvang het. Die vrou is deur doeanebeamptes ondervra voordat sy deursoek is.

“Die beamptes se soektog het egter niks opgelewer nie totdat die vrou tekens van ongemak begin toon het. Sy is na ʼn plaaslike hospitaal geneem waar x-strale geneem is. Die x-strale het vreemde voorwerpe in haar buik getoon,” het Naidoo gesê. Nadat die klein pakkies, vermoedelik kokaïen, teruggekry is, is dit na die polisie se forensiese laboratorium gestuur om getoets te word.

Volgens Naidoo het doeanebeamptes vandeesweek ook ʼn pakkie onderskep wat deur die OR Tambo-lughawe na Nigerië op pad was. Die pakkie het ʼn renosterhoring, 51 leeunaels en 19 leeutande bevat. Die pakkie is aan die konvensie oor die internasionale handel in bedreigde spesies (Cites) oorhandig wat nadere ondersoek sal instel.

ʼn Span van die SAPD en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (Said), wat vragte by die lughawe nagegaan het, het ook hierdie week ʼn vragmotor voorgekeer wat van Swissport af gekom het. Die goedere op die vragmotor is as drukwerk aangedui. Toe beamptes egter die vragmotor deursoek, het hulle op bokse Nike-skoene ter waarde van ongeveer R2,8 miljoen afgekom. Die vragmotorbestuurder het uitgespring en gevlug en die vragmotor en goedere net daar gelos.

Volgens Naidoo word vermoed dat die handelsmerkskoene vervals is. Daar is op die goedere en die vragmotor beslag gelê.

Naidoo het enigiemand wat strafregtelike aktiwiteite by die lughawe of elders wil aanmeld, aangemoedig om Stop Misdaad by 0860 010 111 te bel. Inligting kan op anonieme grondslag deurgegee word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

HPH ·

Sjoe dit is baie goed wat gekry is. bv net die skoene is R2.8 miljoen en die waarde van die vragmotor. Ek lees die berig en wonder nou net wat gebeur met die goedere Word dit vernietig of wat !!

Marianne ·

WAAROM word ons diere vermoor? (poaching isn’t hunting, it’s murder). Dan word die “bruikbare” dele uit die land gesmokkel…
KAN bende lede en sindikate nie maar uitgesmokkel word, sodat HULLE hul gru dade in ander lande gaan voort sit en ons land, ons diere en ons mense in vrede kan los nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.