Dwelms, speelgewere (en ʼn krokodil) in klopjagte gevind

Die polisie het tydens een van die klopjagte ook op ‘n krokodil beslag gelê. (Foto: SA Polisie)

Johannesburgse polisielede het vyf mense aangekeer tydens klopjagte om die besit en handel van dwelms ʼn nekslag toe te dien. Beamptes het terselfdertyd beslag gelê op dwelms ten bedrae van R600 000, verskeie speelgoedgewere – en selfs ʼn krokodil.

Lt.kol. Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder, sê lede van die georganiseerde misdaadeenheid, forensiese dienste en die Wes-Randse honde-eenheid het Vrydag inligting opgevolg oor dwelms wat glo by ʼn perseel naby aan twee skole in Roodepoort aan die Wes-Rand gesmous word.

Die polisie het toegeslaan, die perseel deursoek en afgekom op dagga in verskillende vorms, asook daggabome en eetbare dwelms. Die dwelms het ʼn straatwaarde van sowat R200 000. Een verdagte is in hegtenis geneem.

Volgens Masondo het die polisie ook op twee speelgoedgewere beslag gelê.

“ʼn Krokodil is ook op die perseel gevind. Die hulp van die Dierebeskermingsvereniging is ingeroep om die dier te hanteer,” sê hy.

Sommige van die dwelms wat op een van die persele gevind is. (Foto: SA Polisie)

Dit was nie duidelik waarom die krokodil op die perseel was nie.

In ʼn afsonderlike voorval het lede van die narkotika-eenheid met ʼn lasbrief toegeslaan op ʼn kompleks in Dainfern in die noorde van Johannesburg waar hulle dwelms – vermoedelik metamfetamien, oftewel tik – ter waarde van R400 000 gekonfiskeer het.

Vier verdagtes, ʼn man en drie vroue, is in hegtenis geneem. Hulle sal so gou doenlik in die landdroshof verskyn. Die ondersoek duur intussen voort.

Lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiehoof, het die samewerking tussen die verskillende eenhede geloof in die poging om te verseker dat die dwelms van Gauteng se strate verwyder word.

“Die suksesvolle inhegtenisnemings en beslaglegging is ʼn groot stap om dwelms in ons samelewing uit te roei. Dit is uiters belangrik dat mense verdagte en misdadige bedrywighede in hul gebied by die polisie aanmeld,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Phillip ·

Hulle moet kyk of die krokedil nie dewelim in sy maag het nie as mense dwelims in hulle mae hou kan dit ook met die krokedil ook wees

Di ·

Hulle los ook NIKS uit nie, sal enige iets onder die son doen vir geld!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.