Dwelms van meer as R100 miljoen op kleinhoewe gevind

Argieffoto (Foto: VocFM.co.za)

Argieffoto (Foto: VocFM.co.za)

Vyf verdagtes, waaronder ʼn adjudant-offisier, is in hegtenis geneem op aanklag van die vervaardiging van dwelmmiddels en dwelmhandel.

Die mandrax, ter waarde van R105 miljoen, is tydens ʼn gesamentlike operasie tussen die Wes-Kaapse Valke en misdaadintelligensie op ʼn kleinhoewe in De Deur buite Vereeniging in Gauteng, gevind.

“Die gebied is vir ʼn paar maande lank dopgehou nadat daar vermoed is dat ʼn sindikaat by die laboratorium betrokke is om die dwelmmiddels wêreldwyd te versprei,” het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die polisie, gesê.

Die verdagtes, tussen 27 en 59 jaar oud, is Dinsdagaand in hegtenis geneem. Die polisiebeampte is Woensdagoggend by sy huis in Bassonia in hegtenis geneem.

“Die ondersoekspan het beslag gelê op dwelmvervaardigingstoerusting en mandraxtablette wat reeds verpak was en gereed was vir verspreiding in De Deur, insluitend by een van die polisiebeampte se huise,” het Mulaudzi bygevoeg.

Dit is die tweede groot dwelmklopjag die afgelope week nadat die Valke in KwaZulu-Natal ook beslag gelê het op ʼn houer met dwelmmiddels ter waarde van R50 miljoen in ʼn verseëlde houer by Durban se hawe.

Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die Vereeniging-landdroshof verskyn op aanklag van die vervaardiging van dwelmmiddels en dwelmhandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lance ·

Ja die polisie is betrokke al meer en meer …wat n skande …al skaam vir SA

NEL ·

Hi,ons het die beste polisie mag ter wereld, hulle is op die misdaad toneel voordat die misdaad gepleeg word. Word gese dat daar nog ouens is wat lojaal is teenoor die diens wat hulle lewer, maar hulle raak dun gesaai.

John ·

Die probleem is dat misdadigers steel om geld te bekom vir nog dwelms. Hulle is op so ‘n ‘high’ vir stamina en vim dat hulle uiters wreedaardig en aggressief optree. Waarom is daar nie ‘n eenheid wat uitsluitlik werk om die’ euwel, waarvan ons elke dag hoor, uit te wis nie. Skole word gereeld geteiken. Of gaan ons binnekort ook nie meer nuus hieroor in die nuus en op tv kry nie?

neelsie ·

Om jouself te verryk ten koste van ander se lewe, misbruik te maak van jou posisie , is ongelukkig die denkwyse van baie in ons land.
Kan ons n geseende samelewing wees met sulke optrede?
Wat sien ander wat saam met jou leef in jou lewe?
Dis nie wat jy se nie ,maar wat jy doen!
Ons nalatingskap is baie meer as net n groot klomp geld en besittings.

Ben ·

Tyd vir wakkerword! Ontneem alle misdadegers wat betaal word uit die staatskas, van alle voordele soos sy pensioen, vry medies, en elke voorreg waarvoor jan publiek so vrygewiglik voor moet betaal.

Leon ·

Baie goed gestel NEL, hulle is op die toneel voordat die misdaad gepleeg word.
:-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.