Dwelmsmokkelary: Nog 4 polisiebeamptes gee hul oor

Argieffoto ter illustrasie: SAPD

Altesaam 16 polisiebeamptes sal vandag in die Kemptonpark-landdroshof verskyn vir hul beweerde betrokkenheid by dwelmsmokkelary.

Hulle sal op 233 aanklagte verskyn, insluitend dwelmhandel, die onwettige besit van dwelms, diefstal en regsverydeling, het Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, gesê.

Die Valke het Vrydag 12 van die beamptes in hegtenis geneem terwyl nog vier beamptes hulself oor die naweek oorgegee het. ʼn Sewentiende verdagte sal later by die saak gevoeg word omdat hy tans Covid-19 het en in isolasie is.

Volgens Mjonondwane het aantygings van korrupsie en ’n vermeende dwelmsindikaat by die OR Tambo Internasionale Lughawe gelei tot ’n geheime operasie wat in Oktober 2018 deur lede van misdaadintelligensie en die Valke begin is.

“Die beamptes het na bewering dwelms gesteel wat by dwelmmuile op die lughawe gekonfiskeer is. Hul optrede het daartoe gelei dat die dwelmmuile aangekla is van die besit van dwelms van ’n kleiner gewig.”

Intussen is ʼn totaal van 13 Tshwane-metropolisiebeamptes ook oor die naweek in hegtenis geneem.

Volgens sr. supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die TMPD, is die inhegtenisnemings die resultaat van ’n voortgesette ondersoek wat ongeveer twee jaar gelede begin is om korrupsie binne die polisiëringsektor uit te roei.

Die beamptes het na bewering omkoopgeld van motoriste geëis in ruil daarvoor dat hulle nie vir ernstige verkeersoortredings beboet word nie.

Die beamptes sal na verwagting vandag in die Pretoria-, Tembisa- en Hammanskraal-landdroshof verskyn.

Mahamba het gesê die moontlikheid van nog inhegtenisnemings word nie uitgesluit nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

LANA is ELANè ·

Mens kan niks meer te wagte wees nie. Daar is baie SAPD lede wat voordeel trek uit misdadigers se buit, dit is glad nie tot die lughawe of hierdie saak beperk nie – help net nie mens gee dit aan nie, want korrupsie gedy by beide die SAPD as die Metro Polisie, die kans dat jy dit aangee by een van hulle kollegas wat ook voordeel daaruit trek is net te groot en dan word jy as fluitjieblaser gemerk, daarom is dit beter om stil te bly en anderkant toe te kyk as jy saans rustig wil slaap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.