‘Dwelmverslaafde’ in hof vir moord op geliefde Pta-ouma

Anita Cassel. Foto: Facebook

Anita Cassel. Foto: Facebook

Die vermeende dwelmverslaafde wat Maandag in die noorde van Pretoria in hegtenis geneem is, skaars nege uur nadat hy Anita Cassell, ʼn geliefde ma en ouma in haar laat 60’s, glo vermoor het, gaan na verwagting vandag in die hof verskyn.

Die man, wie se naam eers bekend gemaak mag word nadat hy in die hof verskyn het, staan tereg op aanklag van moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, huisroof en inbraak by ʼn sakeonderneming. Hy moet in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig Anita, wat saam met haar seun, Danie Cassell, en kleinseun in hul huis in Wonderboom in die noorde van Pretoria woon, is tussen 05:30 en 06:00 daar aangeval deur iemand wat bekend is aan die gesin.

Mirna von Benecke, polisiewoordvoerder van die Sinoville-polisie, het aan Maroela Media gesê die 34-jarige verdagte het glo voorheen as kelner vir Danie, medebestuurder van Panarotti’s in die Kolonnade-winkelsentrum, gewerk. Die verdagte is glo ʼn dwelmverslaafde en die slagoffers wou hom help deur vir hom ʼn werk en blyplek te gee. Hy is egter sowat ʼn maand gelede afgedank omdat hy glo nie van sy gewoontes wou afsien nie.

Daar word vermoed dat die verdagte Maandag by die Cassells se huis ingebreek het om die sleutels van die restaurant se kluis te steel. Anita het hom glo in die huis betrap, waarna sy verskeie kere met ʼn mes gesteek is. Sy is op die toneel dood. Danie het op hulle afgekom en is ook gewond en na ʼn hospitaal geneem. Die kleinseun is ná die voorval vir berading gestuur en in ʼn plek van veiligheid opgeneem.

Die man het met ʼn selfoon en die restaurant se kluissleutels van die toneel gevlug. Hy het glo omstreeks 06:20 by die restaurant ingebreek en ’n onbekende bedrag geld uit die kluis gesteel en gevlug.

Te danke aan die vinnige optrede van die Sinoville-polisie en -gemeenskapspolisiëringsforum, is die verdagte omstreeks 15:00 by ʼn dobbelplek in Ninapark opgespoor en in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Isabel Sanderson ·

Johan Visser kan nou moord by sy lang lys van misdade voeg. Onder andere verkragting van minderjarige kinders waarvoor hy tronkstraf opgele is. Wat kon korrektief besiel het om die gemors vry te laat voordat sy vonnis uitgedien was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.