Dwelmvervaardiger in Gauteng blootgelê

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Hans Reniers/Unsplash)

ʼn Dwelmvervaardigingslaboratorium in Vereeniging se bedrywighede is Saterdag tot ʼn halt geroep nadat die Valke op dié onwettige onderneming toegeslaan het.

Twee verdagtes is daartydens in hegtenis geneem, terwyl daar op dwelms, chemikalieë en vervaardigingstoerusting ter waarde van miljoene rande beslag gelê is.

Kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke, sê owerhede het die afgelope naweek inligting ontvang oor onwettige dwelmhandel in die omgewing van Vereeniging in Gauteng.

Die ondersoekspan het ʼn perseel in die gebied dopgehou en eindelik ʼn lasbrief gekry om die fasiliteit te deursoek.

“Lede van die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad in Germiston, die teennarkotika-eenheid, asook Ekurhuleni en die Wes-Rand se honde-eenheid het op die perseel toegeslaan en twee verdagtes daar aangetref,” sê Mulamu.

“Die verdagtes het na bewering ʼn hand daarin gehad om dwelms in die ten volle toegeruste laboratorium te vervaardig.”

Forensiese ondersoekers het beslag gelê op dwelms, chemikalieë en vervaardigingstoerusting met ʼn geraamde straatwaarde van R2,5 miljoen.

Die verdagtes, ʼn vrou en ʼn man, is in hegtenis geneem en aangekla vir die oortreding van die Wet op Dwelms en Dwelmhandel.

Genl.maj. Ebrahim Kadwa, provinsiale hoof van die Valke in Gauteng, het die ondersoekspan geloof vir die opsporing van die laboratorium en vinnige inhegtenisneming van die verdagtes.

“Die gebied is die afgelope paar jaar ʼn brandpunt vir verskeie geheime dwelmlaboratoriums wat op kleinhoewes en residensiële persele bedryf word,” sê Kadwa.

“Ons doen ʼn beroep op lede van die gemeenskap om enige verdagte misdadige aktiwiteite wat verband hou met die onwettige vervaardiging en verspreiding van dwelms by die owerhede aan te meld.”

Die twee verdagtes het Maandag in die Vereeniging-landdroshof verskyn terwyl die ondersoek na die saak voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.