Dwelmvonds van R3,1 miljoen by Durban-lughawe

Argieffoto: SAPD/Facebook

Doeanebeamptes het Donderdag by die King Shaka Internasionale Lughawe in Durban beslag gelê op onder meer dwelms, onwettige velverligtingsrome en vervalste klere met ʼn gesamentlike waarde van ongeveer R20 miljoen.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het in ʼn verklaring gesê die dwelms is in ʼn pakkie met maskarabuisies, wat op pad was na Liberië, versteek. Die dwelms is deur ʼn snuffelhond ontdek.

“ʼn Ondersoek deur die beamptes het gelei tot die vonds van 15,63 kg heroïen, met ʼn straatwaarde van R3,1 miljoen, wat in die proppies van die maskarabuisies versteek is,” het die SAID gesê.

Die dwelms is aan die polisie oorhandig vir nadere ondersoek.

Beamptes het ook ʼn versending vanaf Lagos, Nigerië, teruggehou. Die versending, wat verklaar is as haarstukke, het 2 469 kg onwettige velverligtingsrome bevat. Die versending is na raming R12,9 miljoen werd.

In die laaste opsporing deur die doeanebeamptes, is daar op ʼn versending van 7 380 hemde vanaf Hongkong via Dubai beslag gelê. Dié versending is na raming R6,2 miljoen werd.

“Tydens die ondersoek is bevind die inhoud van die versendings is sokkerhemde met handelsmerke wat vermoedelik vervals is. Daar is beslag gelê op die versending vir nadere ondersoek,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

E.K. ·

Nog ‘n berig wat my ook nie meer skok of verbaas nie. Ons raak maar apaties in SA

marous ·

Verstaan dwelms en miskien hoekom vel verligtings room in die land as’n sonde beskou word , maar wat se goed is vervalste klere?

susan ·

HAAHAHAHAAAAAAA. Jy ken nie jou Afrikaans nie!! Fonds het te doen met geld, Vonds is iets wat gevind word.

Carel ·

SPELLING !!!!!!!
FONDSE NIE VONDSE NIE JULLE KAN NIE SULKE BLABSE MAAK NIE ASB

Francie ·

Goeie werk wat julle mense by die lughawe doen, baie geluk.
Fantastiese honde en hul hanteerders wat werk van onskatbare waarde doen.
Is dit nodig om van ‘n nuusberig ‘n stryery oor die spelrëels te maak? Dis onvanpas en onnodig, hierdie haarklowery.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.