Dwing premiers om te reageer oor droogte, maan DA

Kleinskaalse boer Paul van Wyk kniel by ʼn waterpan in Vosburg (14 November 2019) (Foto: AP Photo/Denis Farrell)

John Steenhuisen, leier van die Demokratiese Alliansie, het Donderdag pres. Cyril Ramaphosa versoek om premiers te dwing om te reageer op die land se droogtekrisis om ʼn “katastrofe” te voorkom.

Steenhuisen het besoek afgelê aan Kimberley in die Noord-Kaap. Die party se provinsiale leier, Andrew Louw, het by hom aangesluit.

Ramaphosa en sy kabinet is ook in die provinsie vir die ANC se 108ste herdenkingvieringe.

“ʼn Versuim om die erns van die droogte te erken wat al nege provinsies teister, en verdere vertragings om maatreëls in plek te stel om die impak van die droogte te verlig, sal katastrofiese gevolge hê vir ons land,” het Steenhuisen gesê. “Dit is ʼn realiteit wat ons regering nie langer kan ignoreer nie en dit moet beslis aangespreek word in die president se toespraak op 8 Januarie.”

Volgens hom sal die impak van die droogte op Suid-Afrika se voedselsekerheid elke burger raak en armes sal die swaarste hierdeur getref word wanneer voedselpryse styg.

“Dié dreigende katastrofe is nêrens so duidelik as reg hier in die Noord-Kaap nie. Dit is miskien ʼn bedekte seën dat die ANC besluit het om sy vieringe juis hier te hou. Pres. Ramaphosa is nou al byna ʼn week lank in die Noord-Kaap en sou eerstehands die verwoesting kon sien van die voortgesette droogte. Hy kan nie later aanvoer hy is geskok oor die situasie nie.

“Daar is niks wat ons, of enigiemand, kan doen om dit te laat reën nie, maar daar is baie wat gedoen kan word om die impak van die droogte op inwoners te probeer verlig en voedselsekerheid in die landboubedryf te beskerm. Swak beplanning, kwynende infrastruktuur en korrupsie vererger die impak van die droogte en dit is onnodig om te sê dat dié kwessies in elke provinsie aangeroer moet word.”

Hy het bygevoeg dit is “uiters kommerwekkend” dat nie een van die ander provinsies wat ook deur die droogte geraak word, oënskynlik ʼn gevoel van dringendheid of kommer toon nie. “Die Noord-Kaap word dalk die ergste hierdeur geraak, maar die Oos-Kaap, Noordwes, Limpopo, Mpumalanga, Vrystaat, KwaZulu-Natal en Gauteng beleef elkeen hul eie weergawes van dag zero – of dit nou in residensiële gebiede is of die volhoubaarheid van vee of oeste op plase.

“In dorpe soos Butterworth in die Oos-Kaap het dag zero reeds aangebreek, maar daar word skaars melding gemaak daarvan in die media. Talle ander dorpe in die Oos-Kaap en Vrystaat is ook nie ver agter nie.

“Hier in die Noord-Kaap is die landboubedryf op sy knieë. Alhoewel maatreëls soos die droogteplan, die vroeëwaarskuwingstelsel en planne vir ʼn weidingbank van stapel gestuur is, is dit eenvoudig nie genoeg nie.”

Steenhuisen maan Ramaphosa om sy toespraak op 8 Januarie te gebruik om die dringendheid van die droogte aan te spreek en ʼn gepaste reaksie te prioritiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Julie Jansen van Rensburg ·

Ramaphosa se kop is net vol van hoe sy party (NIE die “mense” nie) nog meer mag – en daardeur meer geld in sy – en ander “grootkoppe” – sy bankrekenings kan kry en na die duiwel met die “mense” – Mugabe was ‘n uithaler leermeester vir meeste van “ons” mense wat nou die prys vir hulle aanbidding van hierdie leiers moet betaal. Ek het onlangs ook gesê as ons vir ‘n swart party/leier MOET stem, val my keuse op Patrick Lekota (COPE) en/of Kenneth Meshoe vanACDP… ek voorspel hierdie jaar gaan nie maklik vir die gewone mense op straat wees nie…

M ·

Breek mens se hart om dit te sien, asb Hemelse Vader , open di sluise van di Hemel, vergeef ons ons sondes Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.