Dwingende kwessies druk parlement ná reses

LP’s tydens ‘n parlementsitting. (Foto: GCIS)

Parlementslede keer hierdie week terug werk toe ná die kort lente-reses met ‘n klomp dwingende samelewingsvrae op die agenda.

Een van die kwessies wat baie goed dopgehou sal word, is of sittings vir openbare deelname aan die werk van die ad hoc-komitee ter verandering van art. 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding te vergemaklik, gaan hervat. Wat volgende in die proses moet gebeur is dat die openbare insette op gemeenskapsvergaderings in die Oos-Kaap en Wes-Kaap moet plaasvind voordat die proses verder geneem kan word deur die tersaaklike ad hoc-komitee. Openbare insette is in die ander sewe provinsies reeds afgehandel.

Die proses om oor die omstrede beoogde grondwetwysiging te besluit is in Maartmaand op ys gesit toe die inperkingsregulasies byeenkomste van meer as vyftig mense verbied het. Die hoeveelheid toegelate mense wat so ‘n vergadering kan bywoon is nou opgestoot na 250, wat steeds heeltemal te min behoort te wees as mens na die gemiddelde openbare bywoning van hierdie tipe gemeenskapsvergadering kyk. Die parlement het nog geen aanduiding gegee van hoe hulle die kwessie gaan benader nie.

‘n Tweede kwessie wat aandag gaan kry is beweerde korrupsie tydens die grendelstaat. Hiervan kom sommer twee al Dinsdag aan die bod wanneer korrupsie en wanbestuur met betrekking tot die Beitbrug-grensdraad deur die staande komitee oor openbare rekeninge hanteer word, terwyl die portefeuljekomitee oor arbeid korrupsie en wanbestuur in die veel gekritiseerde Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) takel.

‘n Minister wat fyn voetwerk gaan benodig om uit die pekel te bly is die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula. Haar betrokkenheid by ‘n staatsvlug waarop ANC-lede vir ‘n partypolitieke geleentheid na Zimbabwe vervoer is op belastingbetalerskoste kos haar reeds drie maande se salaris, maar met veral die DA se Kobus Marais soos ‘n windhond op haar spoor is al meer geraamtes besig om uit die kas te val.

Twee dissiplinêre prosesse gaan in hierdie sitting ook voorrang geniet. Eerstens is daar die poging om die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, uit haar pos te verwyder, en tweedens die dissiplinêre optrede teen ‘n verskeidenheid EFF-lede oor ontwrigtende gedrag.

Albei gaan klippe kou verg. Mkhwebane beveg die proses in die hooggeregshof terwyl die EFF se dr. Mbuyiseni Ndlozi reeds elke toertjie in die boek aanwend om sy kamerade van die hoek af te kry.

Belangrike wetgewing voor die parlement sluit in vier wetsontwerpe om geslagsgebaseerde geweld te takel en ‘n belangrike verandering aan die Kieswet wat kiesers slegs sal toelaat om te stem by die stempunt waar hulle geregistreer is.

Een kwessie wat nog onseker is, is wanneer die parlement fisiese sittings in die plek van die huidige virtuele sittings sal hervat. Dit word binnekort verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jannie van Niekerk

Hulle moet van al die ander kwessies vergeet en slegs twee bespreek: Korrupsie en Plaasmoorde. Verder moet die President vir Cele summier ontslaan en die agbare minister se grootste vyand, die DA LP, Genl Ockert Terblanche , aanstel as minister van Polisie. Genl Terblanche het deur die range gekom in die polisie en sal die taak baie goed hanteer. Indien die President nie iemand buite die ANC wil aanstel as minister nie, waarom is Patricia de Liile van Good dan in sy kabinet?

Jaco

Wat van die uithaal van wit mense uit die ekonomie? Toe inperking nog streng was, het ramaphosa meer as eenkeer gesê dat wit mense se rol in die ekonomie en hulle beheer oor die ekonomie te groot is en dat dit moet stop. Sedertdien is daar egter doodse stilte daaroor. Het ramaphosa besef dis malligheid om dit te doen, óf is dié stilte net ‘n stilte voor ‘n storm waarin wit mense genadeloos onderdruk gaan word?

marius

Hulle gaan sukkel om wakker te bly na ses maande se hibernasie .

Jakes

Om enige kwessie in die parlement te bespreek is maklik. Dis egter n ander saak as jy met n regerende party sit wat in elk geval onbevoeg is om enige kwessie suksesvol te besleg.