‘Dyllie het sy boetie se naam gekies’

Dylan Piek (Foto: Hulp vir Dylan Piek/Facebook)

ʼn Gesin van Pretoria het die afgelope week ʼn baba ryker geword, maar moes skielik ʼn paar dae later van hul oudste kind afskeid neem.

Maroela Media het vroeër berig dat Jamie Lee Piek self haar baba op pad hospitaal toe in die motor gevang het. Jamie Lee was saam met haar man, Quintin, en skoonma, Elmarie, in die motor toe baba Aiden gebore is.

Twee dae later is die Pieks se oudste seun Dylan (6) in die Life Eugène Marais-hospitaal opgeneem en later die middag na die intensiewesorgeenheid geskuif. Dylan se ouma Elmarie was tot met sy dood Donderdagoggend by hom.

Daar is aanvanklik gedink dat Dylan weens breinvliesontsteking dood is, maar die uitslae toon dat hy ʼn hartstilstand gehad het. Jamie Lee sê Dylan se dood is ʼn groot skok omdat hy nie ʼn sieklike kind was nie.

“Dyllie was tot met sy dood seker vier keer in die hospitaal. Hy het nooit eers verkoue gekry nie,” sê sy ma.

Jamie Lee het in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel dat hulle gemengde emosies ervaar. Dit is veral wanneer sy na Aiden kyk dat dit moeilik is. Die egpaar het ook nog ʼn seun, Jayden.

“Dyllie het Aiden se naam gekies. Hy het die laaste ruk amper elke dag gevra wanneer sy nuwe boetie kom,” onthou Jamie Lee. Dylan het Dinsdag vlugtig vir Aiden ontmoet voor hy Woensdag opgeneem is.

“Ek het regtig gedink hierdie gaan ons as gesin uitmekaar uitruk, maar dit het ons nader aan mekaar gebring,” vertel Jamie Lee. “Wat dit ook vir ons makliker maak is dat die emosies ons nie almal gelyk oorweldig nie.”

Jamie Lee sê Dylan se plek is leeg en elkeen ervaar dit op ander tye van die dag. Sy verlang soggens na hom waar hy gewoonlik op die bank sou sit en YouTube kyk.

“Hy het altyd na wetenskaplike video’s gekyk en wou voortdurend iets nuuts leer. Dyllie het elke oggend wanneer ek by die vertrek inkom vir my gevra of hy mag koffie kry en dan het ek vir hom gemaak.”

Jamie Lee en Quintin Piek (Foto: Verskaf)

Quintin het gewoonlik in die aand saam met Dylan gaan stort en wanneer hy vergeet het om sy seun te roep was daar “moeilikheid”, skerts Jamie Lee.

“Dyllie was ʼn liefdevolle mens. Hy het altyd vir almal gesê ‘I love you lots like Jelly Tots’.” Hy was besonder geheg aan sy ouma Elmarie.

Te midde van die hartseer vertel Jamie Lee dat Aiden vir hulle hope vreugde verskaf en boonop stroopsoet is.

“Aiden is ʼn engel. Hy slaap goed, behalwe wanneer sy boetie hom pla.”

Talle boodskappe van medelye en bemoediging het sedertdien ingestroom.

’n Besorgde vriendin het ook ʼn “Hulp vir Dylan Piek”-blad gestig om genoeg fondse in te samel om die familie met begrafniskoste en mediese uitgawes te help.

“Daar is baie mense wat die gesin wil bystaan, maar nie altyd weet hoe nie. Op die manier kan enigeen wat die behoefte het, ʼn bydrae lewer,” sê Cynthia Mckirby. Bankbesonderhede vir donasies kan op die “Hulp vir Dylan Piek”-Facebookblad gekry word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sarel ·

Ek laat sak my kop in skaamte omdat ek so gewoond is om te kla. Mag ons elke dag ons seeninge tel
Stetkte azn did ouers. Die Here het gegee en geneem hoekom weet ons nie

Racheltjie Debeer ·

Dit is ongelooflik hartseer. Mag Jesus julle vertroos in hierdie deurmekaar tyd.

Carientjie ·

dit is bitter bitter hartseer, kan my nie die pyn voorstel nie

Eurika ·

Piek gesin en familie…Bittere pyn…ai eks so dankbaar dit het jul gesin nader aan mekaar gebring en nie verskeur nie.. Mag Jesus jul dra in tye wat jul nie ‘n voet voor die ander kan sit nie.. Sterkte en Seënwense vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.