E-inkopies maak verbruikers vies

(Foto: Unsplash)

ʼn Kwart van alle klagte wat by die ombudsman vir verbruikersgoedere en dienste (GCSO) ingedien word, hou verband met aankope wat aanlyn gedoen is.

Die ombudsman het in die afgelope boekjaar altesame 11 834 klagtes ontvang, in vergelyking met die 14 438 wat ʼn jaar tevore ingedien is en aanlyn transaksies is nes die vorige jaar verantwoordelik vir die meeste klagtes, ten spyte van ʼn effense daling in die getal klagtes oor e-handeltransaksies.

Die ombudsman sê hierdie is ʼn neiging wat na verwagting in die toekoms gaan voortduur.

“Dit is duidelik dat die aanlyn inkopieneiging wat deur die koronaviruspandemie aan die gang gesit is, hier is om te bly,” sê ombudsman Magauta Mphahlele.

Sy sê hoewel bedrieërs en verkullers geneig is om die hoofopskrifte te haal, werk die meeste aanlyn verskaffers saam om probleme uit te stryk.

E-handel, en die telekommunikasie- en satellietdienstesektor, sowel as vervaardigers van toebehore en meubels, is saam verantwoordelik vir 70% van alle klagtes.

Net minder as die helfte van alle klagtes kom uit Gauteng, gevolg deur die Wes-Kaap met 18% van klagtes en KwaZulu-Natal met 13% van klagtes.

Die ombudsman het vanjaar vir die eerste keer ook klagtes ontvang wat met verlede jaar se burgerlike onrus in KwaZulu-Natal en Gauteng verband gehou het. Dit het ingesluit klagtes oor goedere wat by diensverskaffers vir herstelwerk gelaat is en tydens die plundering gesteel is, of vervoerdienste wat weens die geweld opgeskort is en goedere of dienste wat nie gelewer of nie betyds gelewer is nie.

Goedere, dienste en ooreenkomste wat aangegaan word, beloop 94% van alle klagtes en vier verbruikerswaarskuwings is uitgestuur teen maatskappye wat betalings ontvang het, maar versuim het om die goedere of dienste te lewer – selfs nadat die ombudsman verskeie klagtes onder die betrokke maatskappye se aandag gebring het.

Die waarskuwings is uitgereik teen Mr Shopper, wat meubels en elektroniese toebehore verskaf, Wiegenkind Boutique, wat baba- en swangerskapsklere verskaf, Ana Eleven Brand, wat vroueklere verskaf en Liepies Online, wat vroueklere, skoene en bybehore verskaf.

Terugbetalings

Tussen 1 Maart verlede jaar en 28 Februarie vanjaar is altesame R11,5 miljoen aan verbruikers terugbetaal. Dit is heelwat meer as die R7,7 miljoen wat in die vorige boekjaar terugbetaal is.

Dit sluit in ʼn terugbetaling aan ʼn verbruiker wat per ongeluk R84 000 te veel betaal het en byna R99 000 aan ʼn verbruiker wat gespesialiseerde elektroniese toerusting gekoop het wat die verskaffer nie kon lewer nie.

Nog sowat R104 000 is aan ʼn verbruiker terugbetaal wat filters bestel het wat eindelik nie aan sy spesifikasies voldoen het nie.

Queen Munyai, uitvoerende hoof van die GCSO, het handelaars bedank wat aan die ombudsman se gedragskode voldoen en verseker dat verbruikers billike behandeling kry.

Dit neem die ombudsman gemiddeld 63 dae om ʼn saak af te handel en in 60% van gevalle is daar in die guns van verbruikers beslis.

Die ombudsman se kantoor het in die jongste boekjaar 13 946 sake afgehandel en die agterstand van die vorige jaar uitgewis. Die groot agterstand is veroorsaak deur ʼn rekordgetal klagtes wat tydens die Covid-19-pandemie aangemeld is. Die klagtes het hoofsaaklik verband gehou met kansellasies tydens die inperkingstyd en diensprobleme wat veroorsaak is deur die ongekende toename in aanlyn inkopies wat in hierdie tyd ondervind is.

Die ombudsman het meer as 2 000 klagtes waar ʼn ooreenkoms nie bereik kon word nie, of waar die verskaffer geweier het om saam te werk, na die nasionale verbruikerskommissie verwys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

melaney ·

Sal in my lewe nooit aanlyn koop nie. Dit is net moeilikheid soek.

Pierre ·

Ek stem saam as dit slegs aanlyn maatskapye is wat agter n “Contact Us” epos wegkryp, die risiko om by gevestige besighede wat aanlyn ook verkoop te koop is uiters laag.

quartus ·

Dit kan dalk elders werk maar in die misdaadkoninkryk Suid-Afrika, moet mens maar liewer self winkel toe gaan en gaan koop wat jy benodig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.