E-tol: DA-mosie misluk; Gautengse ANC steeds teen stelsel

e-tol

Argieffoto

’n Mosie deur die DA in die Gautengse wetgewer om die premier te dwing om e-tol te skrap, het misluk.

Die DA se Solly Msimanga het versoek dat premier David Makhura die proses moet bespoedig om die omstrede e-tolstelsel te skrap. Makhura is versoek om ’n interregeringsplan voor te lê om e-tol binne 30 dae te skrap.

ANC-lede in die provinsiale wetgewer het egter teen die mosie gestem.

Dit kom nadat Fikile Mbalula, minister van vervoer, op 6 Mei gesê het daar sal binne twee weke ʼn aankondiging gemaak word oor die toekoms van die omstrede e-tolstelsel op Gauteng se snelweë.

“Ons is in gesprek met die tesourie en reeds aan die einde van ons proses. Ons moet dié besluit in die volgende twee weke finaliseer,” het Mbalula gesê. Daar word egter al vir jare gesê dat ’n finale besluit binnekort sal kom.

Pres. Cyril Ramaphosa het reeds in 2019 opdrag gegee dat Mbalula, Makhura en Tito Mboweni, minister van finansies, met ʼn oplossing vir die e-tolstelsel vorendag moet kom.

Msimanga, DA-leier in Gauteng, het gesê dit is duidelik dat die ANC die e-tol-kwessie tydens ’n verkiesingsjaar as ’n foefie gebruik om stemme te kry.

“Premier Makhura se eie taakspan wat hy in 2014 gestig het, het bevind dat e-tol nie haalbaar is nie en dat ’n ander oplossings gevind moet word vir die opgradering van die Gautengse snelwegverbeteringsprojek.”

Die ANC-koukus in die Gautengse wetgewer het Dinsdag ’n verklaring uitgereik waarin hy bevestig dat hy ten gunste daarvan is dat e-tol geskrap word. Mzi Khumalo, ANC-hoofsweep in die provinsiale wetgewer, het egter die DA se “opportunistiese en ligsinnige mosie” verwerp.

“Die ANC in Gauteng se 13de provinsiale konferensie het onomwonde verklaar en besluit dat e-tol geen toekoms in Gauteng het nie, en het die provinsiale regering ’n mandaat gegee om in samewerking met die nasionale regering ’n blywende oplossing te vind vir hierdie aangeleentheid.”

Khumalo het gesê daar word nou op die kabinet se besluit oor hierdie aangeleentheid gewag.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se nasionale voorsitter en lid van die Gautengse wetgewer, het die ANC in Gauteng uitgedaag om formeel ’n dispuut met die nasionale ANC-regering te verklaar oor e-tol wat die pad sal voorberei vir regstappe oor die omstrede stelsel.

“Dit lyk eerder of die ANC meer daarin belangstel om die volgende verkiesing te wen deur blote lippediens oor die afskaffing van die e-tolstelsel, maar nie bereid is om die werklike harde geveg aan te knoop nie.

“Aan die een kant vertel die provinsiale ANC-regering dat die e-tolstelsel afgeskaf moet word, maar aan die ander kant verset die nasionale ANC-regering hom hierteen. Veral die minister van finansies het in sy begrotingsrede weereens die gebruikersbetaalstelsel ondersteun.”

Volgens Alberts is dit duidelik dat daar ’n fundamentele verskil van mening bestaan tussen die provinsiale en nasionale regering wat nie meer bygelê kan word deur informele onderhandelinge nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Nefie ·

Ek gee nie veel om wat hulle doen nie, ek weier steeds om te betaal.

Blikke ·

En van hierdie besluit gaan daar ook absoluut niks kom nie…..net soos met die vele ander wat ook nog hangend is…..

Hennie ·

Net soos load shedding, hou net aan en aan. Geen einde in sig nie.

Vernon ·

Natuurlik sal die ANC dit nie skrap nie,want te veel kaders skep van die bietjieeee wat betaal word…

Danie ·

Hulle kan besluit net wat hulle wil. Ek betaal nie en sal ook nie. As hulle my motorlisensie weerhou dan ry ek hom sonder een. As hulle my bestuurs lisensie weerhou dan ry ek sonder een. Ry sal ek ry

Objektief ·

Die ANC is nog altyd deur hierdie projekte gefinansier so dit sal nie afgestel word nie. Hoekom dink julle is die sogenaamde krag skepe op die kaart. Doen die somme; Vir die prys van die kragskepe kan 3 kragstasies gebou word. N groor persentasie gaan weer gebruik word om die ANC the finansier

Dirk Mostert ·

Jou somme is verkeerd. Een kragstasie kos 3 kragstasies se geld (soos Medupi)

Corrie ·

Ek is nie bereid om die gebruikers van e-tol te borg (m.a.w. tolgeld by branstof te plaas) nie. Dan stel ek eerder voor dat die lane verdeer word – een vir betaling by die hek en die ander vir voertuie met skyfies.

Heinrich ·

Ek moet bieg hierdie is een van die geheime wat die ANC baie goed gehou het, en dit is wie presies in die ANC verryk word deur die e-tol stelsel. Kan nie wag vir Zoempies omte bgin sing in die hof nie…

koos ·

Die cANCer in die parlement – wat ‘n siek spul inderdaad. So het hulle ook elke mosie van wantroue in zupta gestoomroller met hulle meerderheid stem. Nou erken cANCer dat zupta slegte nuus was. Al wat die parlement kort, is ‘n tent oor hulle koppe want wat is ‘n sirkus sonder ‘n tent? Democracy is the pathetic belief in the collective wisdom of individual ignorance!

Dirk Mostert ·

Tol-plazas werk goed. Niemand gaan verby sonder om eers te betaal nie.

JohanR ·

Hier is ‘n plan. Stem die ANC uit, dan is soeveel probleme in SA dadelik opgelos!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.