‘E-tol dieselfde as ʼn dompas’

Argieffoto

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) en die departement van vervoer is aan die ontvangkant van ʼn oorvloed kritiek van organisasies, politieke partye en woedende padgebruikers.

Dit volg nadat adj.pres. Cyril Ramaphosa Woensdag aangekondig het dat motoriste voortaan alle uitstaande e-tolfooie sal moet betaal voordat motorlisensieskyfies uitgereik sal word.

Die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Outa) het voorspel dat daar talle nuwe probleme vir voertuiglisensiëring-owerhede sal ontstaan as gevolg van die nuwe beleid. “Hoewel die regering dink hy het sy toepassing van die onregverdige [e-tol-] stelsel opgelos deur die betaling van e-tol met die hernuwing van motorlisensies te verbind, glo ons dit sal ʼn heel nuwe onwettige lisensieskyfie en -nommerplaatbedryf in Suid-Afrika teweegbring,” het die organisasie gesê.

“[Hierdie beleid] sal padgebruikers dwing om met ongelisensieerde voertuie te ry. Motors sal in ander provinsies gelisensieer word … en ons voorsien dat daar regsaksie uit die nuwe beleid sal voortspruit.”

Moontlik ongrondwetlik

Intussen het Justice Project South Africa (JPSA) daarop gewys dat die nuwe beleid in konsepregulasies vervat sal moet word en vir kommentaar aan die publiek voorgelê sal moet word.

“Betrokke partye sal dan 30 dae van die tyd van openbaarmaking af hê om geskrewe voorleggings by die departement van vervoer in te dien. Eers wanneer hierdie proses voltooi is, mag die minister aangepaste regulasies publiseer en die aanvangsdatum daarvan aankondig,” het die organisasie gesê.

Die organisasie het ook genoem dat die terughou van lisensieskyfies moontlik ongrondwetlik kan wees omdat dit daarop sal neerkom dat ʼn persoon wat sy of haar lisensiegeld betaal het, maar ʼn lisensieskyf geweier is, gedwing sal wees om die nasionale padverkeersregulasies te oortree deur sonder ʼn geldige voertuiglisensie rond te ry.

‘Inbraak op reg van vryheid van beweging’

Volgens die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) grens die nuwe e-tolregulasies aan inbraak op die reg van vryheid van beweging omdat “niemand ʼn wins mag maak uit ons paaie nie”.

Mbuyiseni Ndlozi, partywoordvoerder, het gesê e-tol is dieselfde as om ʼn dompas te toon om van een plek na die ander te beweeg. “Dit beteken ook die ANC-regering het ons paaie ʼn kommoditeit gemaak en verkoop nou letterlik ons vryheid van beweging,” het hy gesê.

Die Demokratiese Alliansie (DA) het die nuwe e-tolregulasies as “verraad teen die mense van Gauteng” bestempel. “Die mense het gevra e-tol moet geskrap word, maar die ANC het gesê e-tol is hier om te bly,” het die party in ʼn verklaring gesê.

“Dit is ondanks konkrete bewys dat die e-tolsisteem besig is om in duie te stort. E-tolbetalings het van R120 miljoen in Junie 2014 geval na R45 miljoen in Januarie 2015. Dit is terwyl Sanral se maandelikse kosteverhaling-teikens van R108 miljoen tot R204 miljoen gestyg het.”

Die DA het gesê hy sal steeds die e-tolstelsel deur middel van ʼn private wetsontwerp in die parlement teenstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan Picasso's ·

Soos my president te regte sê – ek het nie gevra vir dit nie – ek sal nie betaal nie. Hulle mag nie my’n lisensieskyfie weier nie – dan maak hulle my ‘n krimineel – my regte word mos beskerm?

Johan ·

Die ongeskrewe is mos dat as jy iets gebruik betaal jy mos daarvoor. Ooral werk dit mos so. Verniet is lankal ‘n woord wat nie algemeen gebruik word nie.
Ek verstaan nie die vreeslike bohaai oor die e-pos nie. As jy daardie wonderlike pad gebruik, kan jy mos glo dis nie ‘n verniet besigheid nie. Wie anders moet daarvoor betaal as jy self wat op daardie goed instand gehoude paaie ry.
Kom kyk hoe lyk die paaie hier in die Noordkaap en Vrystaat.
Ons lewens bronne wat oor daardie paaie vervoer word, word ook getol en dit werk deur na ons prys by die kasier.
Of die prys om daardie paaie te gebruik op enige ander manier gevorder word soos oa ‘n brandstofheffing maak nie saak nie. Daar moet tog maar betaal word daarvoor. By ‘n brandstofheffing vir bv Gauteng pompe te plaas, gaan selfs mense wat dus nie daardie e-tol paaie gebruik nie ook belas word. Dit is dus nie so ‘n sinvolle opsie nie. e-tol bly maar die een. Ai die wet van Transvaal.

Nina ·

Uhm….ons BETAAL mos vir die gebruik van die paaie. Hoe redeneer jy dan nou?

Melkies ·

Hi Johan,

Ons Gautengers betaal ook die gewone ou tolhekke, net soos ander oor die hele land. Maar as jy ‘n e-tol gantry het, nogals minder as ‘n kilometer van ‘n “gewone ou tolhek”, en dan vir altwee moet betaal is dit belaglik. Daar is so een op die N17 Germiston. Wat ‘n grap!

Thinus ·

Consumer Protection Act, Act 68 of 2008 Section
21(1) for the purpose of this Act, goods or services are unsolicited in any of the following circumstances, (c) if a supplier deliver goods or performs services, at a location, date or time other than as agreed, and the consumer has rejected that delivery or performance of service, as contemplated in Section 19(6) , those goods or services, as the case may be, are unsolicited goods. Ek het nie die diens versoek nie en sal nie vir die diens betaal nie.

Sanet Jacobs ·

Belaglik! Ons betaal alreeds baie vir petrol en om paaie in stand te hou. En snaaks dat E-tol nie geld vir Taxi’s en busse nie??

Thomas ·

SA het reeds van die hoogste belastingkoerse in die wereld. Die etol is maar net nog n manier om ekstra geld in te samel deur die regering. Die probleem is dat indien dit nie gestop word nie hulle nog talle ekstra ander belastings sal begin hef.. Dink bietjie, CGT, boedelbelasting, BTW, sins tax, inkomste belasting, eiendoms belasting, sanitere belasting… So gaan die lys aan.. Ironies dat so 5% van bevolking seker 80% van al die belasting betaal. Mens wonder wat dan eintlik met inkomste belasting gebeur? Partytjies, vliegtuie, Nkandlas, sekuriteitswagte, duur motors, hordes vrouens— verdere ironie of implikasie is dat indien ons nie die etol betaal nie en jou lisensie nie hernu word nie sal versekeringsmpye jou eis kan repudieer– jy het geen versekeringsdekking sonder n geldige lisensie nie– so hoe nou? Ek dink dis ongrondwetlik en afpersing. Hoop daar is iemand wat daaroor kan baklei– is dit moontlik om alternatiewe paaie te gebruik? Nee .. Dis n gemors! – meeste van ons wil nie die kriminele ding doen nie maar waarheen. ??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.