E-tol en lisensies net bangmaakpraatjies – drukgroepe

e-tol 2

(Argieffoto)

ʼn Waarskuwing op die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) se webwerf dat motoriste nie hul voertuiglisensies sal kan hernieu indien hulle nie hul e-tolskuld vereffen nie, het ʼn herrie veroorsaak – maar die drukgroep Justice Project South Africa (JPSA) bestempel dit as “propaganda” deur Sanral.

Luidens die waarskuwing sal ʼn motoris sy of haar lisensie kan hernieu, maar die lisensieskyf sal weerhou word totdat die balans van die skuld betaal word.

Die waarskuwing op Sanral se webtuiste. (Skermgreep)

Howard Dembovsky, voorsitter van JPSA, sê Sanral dreig al sedert die begin van die e-toldebakel hiermee. Hy sê daar was nog altyd ʼn bepaling in die voorgestelde Wet op die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe, die sogenaamde Aarto-wet, dat ʼn nakomingsbevel uitgereik kan word vir enige uitstaande oortreding, insluitend die nie-betaling van e-tol, om die betaling van ʼn boete af te dwing.

Ingevolge die bepaling in die konsepwetgewing kan ʼn boete van R500 opgelê word aan ʼn motoris wat ʼn e-pad gebruik sonder om die tolgeld te betaal.

Ingevolge die bepaling in die konsepwetgewing kan ʼn boete van R500 opgelê word aan ʼn motoris wat ʼn e-pad gebruik sonder om die tolgeld te betaal.

Monde Mkalipi, woordvoerder van die Agentskap vir Padverkeersmisdrywe (RTIA), sê daar word nog oor die konsepwetgewing beraadslaag en nog geen finale besluit is geneem nie. RTIA administreer die Aarto-wet.

“Die konsep-Aarto-bepalings skryf ook geen strafpunte voor aan diegene wat nié hul e-tolgeld betaal nie.”

Maroela Media verneem daar is ook geen bedoeling van RTIA om Aarto te gebruik as ʼn manier om agterstallige e-tolskuld in te vorder nie.

Dembovsky sê Sanral het tot dusver nie ʼn enkele kennisgewing uitgereik vir versuim om e-tolgeld te betaal sedert die stelsel in Desember 2013 in werking getree het nie. Hy sê Sanral het ook nog niemand ingevolge die Strafregwet laat vervolg omdat hy nie e-tol betaal nie.

(Argieffoto: ANA)

In een geval het ʼn motoris skuldig gepleit omdat hy vervalste nommerplate gebruik het om die e-tolstelsel en verkeersboetes te omseil. “Sedertdien het Sanral nog geen sake voor die howe gebring nie, ten spyte daarvan dat hy gespog het met hoe betekenisvol dié skuldigbevinding was,” sê Dembovksy.

Hy sê in die afwesigheid van e-padregulasies is Sanral se beste opsie om lisensies ingevolge die Aarto-wet te weerhou van motoriste wat nie hul e-tolskuld betaal nie.

Die Aarto-wet moet op 1 Julie in werking tree, maar was uit die staanspoor in omstredenheid gedompel “oor sy duidelike doelwit om die invordering van inkomste bo padveiligheid te stel deur ʼn dreigende administratiewe las te plaas op motoriste wat hy aanneem skuldig is aan ʼn oortreding”, sê Dembovsky.

Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van Outa, het Sanral se waarskuwing as “fopnuus” bestempel en stem saam dat net oortredingskennisgewings wat in nakomingsbevele omgeskakel word, kan lei tot die weerhouding van ʼn voertuiglisensie.

Duvenage sê die konsepwetgewing word reeds in die hof betwis.

Intussen duur die toutrekkery oor die toekoms van die e-tolstelsel voort.

‘n Argieffoto van protesgangers op ‘n brug oor die N1 in Pretoria. (Foto: Maroela Media)

Die LUR vir vervoer in Gauteng, Jacob Mamabolo, het verlede week gesê daar is geen plek vir die e-tolstelsel op Gautengse paaie nie. Mamabolo het gesê hy het in November die minister van vervoer, Fikile Mbalula, skriftelik in kennis gestel van die provinsiale regering se verwerping van voorgestelde Aarto-regulasies as nóg ʼn manier om e-tol in Gauteng af te dwing.

Die minister van finansies, Tito Mboweni, het egter in 2019 tydens sy mediumtermynbegrotingstoespraak gesê die omstrede e-tolstelsel gaan nie binnekort geskrap word nie.

Dembovsky sê dit is duidelik dat die regering nie die stelsel gaan skrap nie.

“Hy sal eerder die kans waag om ʼn opstand oor voertuiglisensies te veroorsaak, as om te erken dat hy verkeerd was om hierdie diaboliese en omslagtige stelsel te bedink.”

Maroela Media het in Desember berig net 18% van e-tolgebruikers betaal hul rekeninge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Hulle stuur vir my foto van kar wat ek nie besit nie en verkeerde regestrasie nommer om te sê ek moet dit betaal. Hulle seker lekker gerook

Frannie

Hulle kan probeer om my lisensie te weerhou, maar dan gaan ek net sonder ‘n voertuig lisensie óók ry en dan verloor hul jaarliks daai geld ook. Ek ry in elk geval deesdae so min rond met die covid pandemie, ek sal maar my kanse vat Pick ‘n Pay toe en terug.

Gert

Tito kry seker geld dis hoekom hy nie die etol
Wat Niemand wil hê nie probeer hou

Hendrik

Ek ry al 3 jaar met ‘n nuwe voertuig rond sonder dat ek enige rekening kry. Die ander voertuie se rekeninge kry ek al lankal nie meer nie. Dit klink nie vir my of SANRAL as organisasie baie effektief is nie en ek wonder of SANRAL nie soos die ander staatsorganisasies ook maar daar is om geld weg te syfer uit die belastingbetalers na die ryk staat orde.

Suzette

Ek het hierdie sien kom. Hulle toets die water……