‘E-tol nie deel van Gauteng se pad vorentoe’

e-tol

Argieffoto

Die omstrede e-tolstelsel is nie deel van Gauteng se pad vorentoe nie en moet geskrap word.

Só het Jacob Mamabolo, LUR vir paaie en vervoer in Gauteng, Vrydag in sy departement se begrotingsrede in die provinsiale wetgewer gesê.

“Ons is vasbeslote in ons eis vir die totale en volledige afskaffing van die e-tolstelsel.” Mamabolo het gesê Gauteng is steeds die provinsie wat die meeste tolgeld moet betaal terwyl die provinsie ook die koste en die las moet dra van nasionale paaie wat die ekonomie bedien en dit koppel aan wêreldmarkte.

“E-tol het nie genoeg inkomste gegenereer om nuwe paaie te finansier en in stand te hou nie; dit is ’n las op die fiskus en dit oortree die gebruikersbetaalbeginsel, aangesien mense uit buurstate en alle provinsies hier deurbeweeg sonder om te betaal.

“Ons bevestig weer ons standpunt sonder vrees, guns of twyfel dat e-tol nie deel is van die pad vorentoe in hierdie provinsie nie en dat dit geskrap moet word.”

Minister Fikile Mbalula. Foto: @MbalulaFikile/Twitter

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het einde verlede maand gesê daar is nog hoegenaamd geen besluit oor e-tol se toekoms geneem nie. Dit volg nadat Mamabolo in ʼn radio-onderhoud duidelik gesê het daar is besluit om binnekort met die provinsie se e-tolstelsel weg te doen.

“Die LUR het bloot tydens die onderhoud duidelik gemaak dat dít die Gauteng- provinsiale regering se mening oor die saak is,” het Mbalula in reaksie gesê.

Mbalula het op 6 Mei gesê daar sal binne twee weke ʼn aankondiging gemaak word oor die toekoms van die omstrede e-tolstelsel op Gauteng se snelweë.

“Ons is in gesprek met die tesourie en reeds aan die einde van ons proses. Ons moet dié besluit in die volgende twee weke finaliseer,” het Mbalula destyds gesê. Daar word egter al vir jare gesê dat ’n finale besluit binnekort sal kom.

Pres. Cyril Ramaphosa het reeds in 2019 opdrag gegee dat Mbalula, Makhura en Tito Mboweni, minister van finansies, met ʼn oplossing vir die e-tolstelsel vorendag moet kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Oom Hennie Pennie

Skrap die e-tol en kry klaar. Die strukture kan opgesny en verkoop word vir skrootyster.

Boon

Die administrative daarvan is in verkeerd hande en n melkkoei vir korruptes

Jaco

Die ANC-LUR vaar uit teen e-tol wat deur die ANC-regering ingestel is. Iets maak REGTIG nie sin nie. Praat verskillende afdelings van dieselfde ANC dan nie met mekaar nie? Of is daar 2 ANCs?

Kaptein

Fikile is meer blaf as byt. Sy kalender het net 2 weke. Al sy besluite vat net ‘ 2 weke’ . Dan wag almal vir maande vir sy humoristiese uitslag . Shame , maar moeilik om punte te score as daar niks is om te score nie.

Mieke

Ek so graag wou weet hoeveel geld daar wél verhaal word en wat daarmee gedoen word!