‘E-tol plaas ʼn swaar las op armes’ – Gauteng-premier

Argieffoto

Argieffoto

Die e-tolstelsel plaas ʼn buitensporige las op lae- en middelklas inkomste huishoudings, het David Makhura, Gautengse premier, Donderdag gesê.

“In sy huidige vorm is die e-tolstelsel onbekostigbaar en onbillik,” het Makhura gesê. “Dit is ook ʼn administratiewe rompslomp.”

Makhura het die media in Johannesburg toegespreek oor die uitkoms en aanbevelings in die verslag van die advieskomitee oor die sosio-ekonomiese impak van die e-tolstelsel op die provinsie se snelweë.

Hy het egter gesê die implementering van die stelsel het die ekonomie en inwoners van Gauteng bevoordeel.

Makhura het gesê die gehalte van die pad is beter, reistyd het verminder, brandstofdoeltreffendheid het verbeter, voertuie se instandhoudingskoste het verlaag en besighede se logistieke doeltreffendheid het verbeter.

Die paneel het meer as 50 aanbeveling in die verslag gemaak.

“Die belangrikste aanbeveling van die paneel is dat elemente van die huidige e-tolstelsel hersien moet word om die vrae oor bekostigbaarheid, gelykheid, regverdigheid, administratiewe eenvoud en volhoubaarheid aan te spreek,” het hy gesê.

Ander aanbevelings wat gemaak is, sluit kwessies in oor die openbare vervoerinfrastruktuur, omgewingsvolhoubaarheid en die ruimtelike integrasie van die Gauteng-provinsie.

Makhura het die paneel in Julie op die been gebring om die ekonomiese en maatskaplike impak van die e-tolstelsel te ondersoek. Die ondersoek het met openbare verhore gepaard gegaan.

Die paneel het sy verslag op 30 November aan Makhura oorhandig, maar die inhoud daarvan is eers vandag bekend gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

anet ·

Ek kan nie verstaan dat my motor se onderhoudskoste verlaag het nie. Ek betaal baie meer vir bande en diens vir my motor. Makhura moet my toelaat om my motor te diens waar sy motor gediens word, wat deur ons belasting betalers betaal word. Hy praat deur sy nek

Indigo ·

Daar word ook altyd eers volledige ondersoeke ingestel sodra ‘n projek reeds in plek is en hulle kan sien dat dit nie werk nie, na dat hulle miljoene rande geblaas het om dit net te bou en af te dwing. Kon hulle nie al die nodige navorsing van die begin af gedoen het nie? Dan sou hulle dalk besef het dat hierdie nie die beste stap was om meer geld vir “paaie se herstelling en instandhouding” te verwerf nie.

Elfie ·

Makhura, ons betaal reeds allerhande heffings op petrol wat versonderstel is om vir paaie, instandhouding ens gebruik te word. As daar minder diefstal en korrupsie deur jou kaders is sal daardie geld wel daar EN genoeg wees vir al die dinge. Ek kan alweer sien sy storie van GELYKHEID en REGVERDIGHEID gaan beteken net sekeres van die bevoling (soos met alles) sal alleen moet opdok vir e-tol!

Lillian ·

Sonder om die padverbruikers te raadpleeg gaan julle voort en bring die e-tol in, betaal daarvoor met die staatsdiens se pensioengeld … (wie gee julle die reg om ander se geld so te vermors?), en dan sluit julle taxis en busse uit, terwyl die res van ons moet betaal en betaal tot dit by ons ore uitkom. Julle word nie geraak nie, want julle betaal nie, ons betaal vir julle ook en dra ook die taxis so inherent betaal ons meer as dubbel omdat ons die res van die land ook moet dra.

Iemand kry vir ‘n “kick back” en dis hoekom dit so by die agterdeur ingesmokkel is.

Breek die goed maar af, want ek SAL dit nie betaal nie! Kom wat wil!

Nina ·

‘Makhura het gesê die gehalte van die pad is beter, reistyd het verminder, brandstofdoeltreffendheid het verbeter, voertuie se instandhoudingskoste het verlaag en besighede se logistieke doeltreffendheid het verbeter.’ HUH????????

Wat rook die ou? Sy kouse?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.