E-tol-vervolging kom dalk

etolhekke in gautengMotoriste wat nie hul e-tolrekeninge betaal nie, gaan dalk binnekort vervolg word.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het Dinsdag aangekondig dat hy twee senior advokate aangestel het wat saam met die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) sal werk om ʼn oplossing te vind vir die wanbetaling van e-tolrekeninge. “Die twee aanklaers sal saam met Sanral bepaal of die optrede van sekere motoriste as ʼn misdryf beskou kan word kragtens die Sanral-wet,” het Nathi Mncube, ʼn woordvoerder van die NVG, gesê.

Mncube sê kragtens artikel 27(5) (a) van die wet is dit ʼn misdryf om te weier of om te versuim om die bedrag verskuldig te betaal. Indien motoriste skuldig bevind word, kan hulle beboet word of tronkstraf opgelê word.

President Jacob Zuma het op 25 September die wetgewing onderteken wat die weg gebaan het dat e-tol op Gautengse hoofweë in werking tree. Die stelsel is op 3 Desember in die provinsie ingestel, ondanks verskeie hofsake en groot teenkanting van die publiek.

Talle motoriste weier om ʼn e-tolskyfie aan te skaf of om hul e-tolrekeninge te betaal.

David Makhura, premier van Gauteng, het verlede Donderdag aangekondig dat ʼn paneel van 15 persone aangestel is om die sosio-ekonomiese impak van e-tol in Gauteng te ondersoek. Die paneel sal Donderdag vir die eerste keer vergader en die impak van die e-tolprojek op die ekonomie en inwoners van Gauteng ondersoek. Die paneel verwelkom ook voorstelle en aanbevelings van inwoners en sal sy bevindings en aanbeveling aan die provinsiale regering voorhou.

Makhura het egter motoriste gemaan om steeds hul e-tolrekeninge te betaal.

Justice Project SA (JPSA) het Dinsdag gesê die aanstelling van die twee aanklaers is nie ʼn verrassing nie. “Sanral se strategie was nog altyd om vrees by motoriste in te boesem deur hulle met kriminele rekords en ander lewensveranderende gevolge te dreig indien hulle weier om vir Sanral se onregverdige en onnodige duur stelsel te betaal,” het Howard Dembovsky, die voorsitter van JPSA, in ʼn verklaring gesê.

Hy bevraagteken waarom die NVG mense wil vervolg ná Makhura se aankondiging dat die paneel sy verslag teen 30 November by die minister van vervoer gaan indien. “Enigiemand wat gedink het dat Sanral en die NVG enige agting of respek het vir ‘n behoorlike proses het, is duidelik geflous,” het hy gesê.

Volgens Dembovsky is daar meer as een miljoen mense wat vervolg moet word en slegs twee aanklaers in die reeds oorlaaide kriminele regstelsel. “Hulle staan nie ʼn kans om ʼn noemenswaardige duik in dié getalle te maak nie,” het Dembovsky gesê. -SAPA

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Estelle ·

Jissie ouens ‘LEEF EN LAAT LEEF”!!!!!!!!!!!!!!!! Ons normale salaris verdiener kan nie meer kop bo water hou nie! Dit is e-tol, hoer petrolpryse, hoer elektrisiteit en so hou die lysie aan en word net langer! Ons betaal vir die flippin stakers wat veroorsaak dat ons ekonomie sy gat sien! Nee hel ek het nie ‘n skyfie nie en sal ook nie een aanskaf nie!

vuilbaard ·

Nog meer ydele dreigemente van SCAMRAL! Kannie wag vir my dag in die hof nie!

Hekwag ·

Bring it on Sanral….! Volgende op die lys is SABC lisensiegeld!

Snippie ·

As jy ‘n koei probeer skrikmaak gee sy nie melk nie. Nes my beursie. My kinders gaan heerlik prentjies teken op die aanmanings, net soos al die SANRAL-rekeninge wat elke week my posbus verstop.

Arrie van rensburg ·

Ek het tans n uit staande rekening van R5000 tale foto’s is van voertuie wat nie aan my behoort nie wat nou ek is op die pad en uit stedig en het nie tyd vir twak nie my regte word aangetas?

Riaan ·

Herhinder my net weer hoekom ons tol moet betaal op paaie wat uit ons belasting gelde gebou was en met ons motors gery word waarop ons lisensie gelde betaal, As ons georganiseerde misdaad eenheid wat ook bekend staan as die ANC – ons land bestuur in plaas van besteel; dan kon ons paaie onderhou word instede van weer belas word. Ons het geen se hierin volgens hulle nie. Ons is veronderstel om ‘n regering te he wat Publieke Dienaars is……public servants…… en hul vat net voordeel waar hulle kan. Iemand moet dit stop!

Linda ·

Hoekom stuur hulle vir mens sms en nie ‘n rekening nie.As hulle my sel nr het,het hulle mos my adres ook.Ek sal graag wil weet waar ek op ‘n etol pad gery het.Ek gee nie om om te betaal nie,maar stuur vir my ‘n rekening dat ek weet waar het ek gery waar etol is.Ek het nie ‘n probleem om by tolhekke te betaal nie.Met etol is dit heel anders.Ek ry nie etol paaie nie.

Spinel ·

Soos onse president gese het…. “i did not ask for the upgrades”, se ek… “i did not ask for the e-tol”!
Hou net ons bleddie gewone paaie in stand… waarvoor ons reeds ‘n hengse klomp belasting betaal, asook die heffing op petrol!

Japie ·

Namibia kry sy brandstof vanaf Suid Afrika. Petrol 95 oktaan kos R 12.59 p/l in Namibia en in SA Pretoria selfde datum kos dit R 14.42 p/l. Genade mense maar die regerende party besteel al ons mense, swart, wit, pienk, pers die hele damm spul. Vir wat nog E-Tol ook uit almal se sakke uit roof. Helsims dis tyd dat eerbare Suid Afrikaners beheer vat van ONS land, te hel met die bedrog en gesteelery!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.