E-tolbesluit kan nie weer uitgestel word nie, sê AA

(Argieffoto: ANA)

Die langverwagte aankondiging deur die regering oor die toekoms van e-tol kan nie verder uitgestel word nie, het die Outomobiel-Assosiasie (AA) gesê. “Daar moet ʼn duidelike pad vorentoe wees vir Gauteng-padgebruikers. Die AA glo enige besluit wat nie die e-tolstelsel in die provinsie tot ʼn einde bring nie, sal uiteindelik onsuksesvol wees.”

Die AA het Donderdag in ʼn verklaring gesê deur die onsekerheid weens die lang vertraging om ʼn oplossing te vind, het die regering effektief ʼn geleentheid misgeloop om e-tol terug te plaas op die tafel. “Ons kan nou slegs na alternatiewe oplossings kyk om die situasie te beredder.”

Die AA het in die middel van 2019 sy Padfinansieringsverslag vrygestel wat wys dat Gauteng-motoriste hoegenaamd nie van voornemens is om ooit vir e-tol te betaal nie. “Niks het verander nie, buiten dat meer bewerings van korrupsie teen die stelsel aanhangig gemaak is en ons meen dit sal mense selfs net nog meer verhard teen betaling.”

Die AA sê ʼn weiering om te betaal – die verwerping van die stelsel – was ook ʼn reaksie op die manier hoe die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) die kwessie hanteer het. “Die organisasie het verskeie geleenthede misgeloop om sy benadering te versag om die stelsel gewild te maak. Hy het met ʼn hardhandige benadering voortgegaan en die gaping tussen die organisasie en die publiek vergroot.

“Hierdie benaderings is teenproduktief: die dreigemente is eerstens leeg omdat hulle in ʼn omgewing werk waar die regering nie enige duidelike opdragte gegee het nie; en tweedens vervreem hulle mense wat gevra word om te bepaal. As mens Sanral se geskiedenis in ag neem waar hulle die publiek se mening van die hand wys, tesame met hierdie traak-my-nie-agtige houding, is die huidige neiging dat minder mense betaal.”

Die bevindings uit die 2019-verslag dui ook dat skuld nie ʼn faktor is in mense se besluit nie en dat meeste mense ʼn paar jaar gelede al ʼn beginselbesluit geneem het om nie te betaal nie. Dit het ook bevind dat mooipraatjies en lokmiddels mense nie van hul besluit sal laat verander nie.

“Toe ons in Augustus 2019 met die minister van vervoer vergader het, het ons ons bevindings in besonderhede beskryf. Ons vertrou dat dié gesprek, en gesprekke met ander organisasies met dieselfde boodskap, nie op dowe ore geval het nie en dat Gautengse motoriste uiteindelik verligting sal kry van ʼn onhoudbare situasie. Enige besluit in ʼn ander rigting sal, ons is seker, nie enige resultate oplewer wat Sanral óf die regering wil hê nie.”

Onder die bevindings in die AA se verslag is dat die enigste regverdige en sinvolle benadering sal wees om e-tol onmiddellik in Gauteng op te skort en verbruikers te vergoed wat e-tol seder 2013 betaal het. Die AA meen die afkamping van ʼn e-tolheffing op die algemene brandstofheffing op elke liter brandstof is steeds die enigste billike en lewensvatbare manier vir finansiering.

“Die regering moet ʼn duidelike besluit neem en e-tol met onmiddellike effek skrap, enige uitstaande skuld kanselleer, diegene vergoed wat wel betaal het en e-tol finansier deur ʼn nominale belasting op brandstof – en dit alles voor die einde van Maart doen. Gautengse motoriste was geduldig, maar dit is onregverdig dat hulle aanhou bly wonder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

DieKriek ·

Mooi gesê, AA, maar die ANC gaan hulle afvee aan julle aanbevelings. Niemand sal ooit vergoed word nie. Dream on.

Persheks Adri ·

Betaal “our people”? Daar is mos stelle reëls vir almal en ja ons wil nie betaal nie, want dit plunder hulle ook

Deon ·

Ons betaal baie belasting, hoe kan daar voorgestel word dat dit by brandstof moet ingesluit word!!!! Is daar nie reeds n heffing tussen al daardie heffings op brandstof wat dit reeds dek nie? Onthou baie suid afrikaners wat so mildelik bydra om brandstof te koop gebruik geheel en al nie hoofwee nie, ons dorpie het nie eers n verkeerslig nie nou moet ek betaal vir n ander een om op n tolpad te ry. Verder val die res van die land se paaie in die grond in met al die slag gate. Dan ook, aangesien die elektrisiteit so probleem is, word brandstof gebruik om elektristeit op te wek, nou betaal ek n heffing vir n generator om op n tolpad te ry en my dorp het nie eers verkeersligte nie. Tsek man!!

Wielspore ·

Uit ‘n saak van beginsel betaal ek nie e-Tol want ons bly in die Laeveld en die rekeninge is foutief. Het laas naweek twee rekeninge ontvang van twee verskillende voertuie waarvan nie een aan my behoort.
Ook maar lekker stupid!

Lian ·

Daar is meer as genoeg belastinggeld reeds ingevorder.
a) stop die reuse salarisse van die topbestuur in die staatsdiens
b) verminder die klomp stoelsitters in die staatsdiens
c) verminder die aantal grants wat betaal word ( net vir bejaardes )
d ) skep vertroue vir toekomstige beleggers
e) hou op geld mors op twak

Raakvatter ·

Ek dink hulle sloer want baie mense (soos ek) is gelukkig om maatskappy petrol kaart te hê MAAR jy MOET ook e-tol skyfie hê. En so ook vervoer maatskappye, ens. So die regering kry tog wel paar rand in van e-tol en sal eerder maar die betalende maatskappye se geld vat en die nie-betalende mense ignoreer. Die kar wat ek my eie geld gebruik vir petrol betaal ek nie ‘n sent e-tol nie.

john ·

Nog n brandstof heffing? wat vd mense wat nog nooit die e tol pad gery het nie of dit ooit sal ry moet ons dan betaal vir Gouteng se flaters?

Fritz ·

Wel……ek het nie kinders nie, maar tog word my belasting vir skole gebruik. So betaal maar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.