E-toluitspraak gelewer

Argieffoto

Argieffoto

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Donderdag ʼn aansoek om die e-tolwetgewing ongrondwetlik en ongeldig te verklaar, van die hand gewys.

“Die aansoek word van die hand gewys,” het regter Owen Rogers gesê. “Die partye moet elk hul eie regskoste dra.”

Hy sê die Demokratiese Alliansie, wat die aansoek ingedien het, het 14 dae om aansoek te doen om verlof tot appèl teen sy uitspraak.

Die DA het die hof genader nadat die Wysigingswet op Vervoerwette en Verwante Sake (die sogenaamde E-tolwet) in September 2013 goedgekeur is.

Die Demokratiese Alliansie het die hof genader om die wysigings ongrondwetlik en ongeldig te verklaar, aangesien die behoorlike prosedure nie gevolg is om terugvoer van provinsies te kry nie. Die wet is as ʼn artikel 75-wet goedgekeur, dus ʼn gewone wet wat nie provinsies raak nie, in plaas van ʼn artikel 76-wet wat wel provinsies raak.

Die respondente in die aansoek is president Jacob Zuma, speaker van die Nasionale Vergadering Max Sisulu, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies Mninwa Mahlangu, minister van vervoer Dipuo Peters, die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) en die Nasionale Tesourie. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.