Ebola geen bedreiging vir SA-toerisme

Dokters Sonder Grense verwyder 'n persoon se liggaam in Guinee wat weens die ebola-virus gesterf het Foto: thewestsidestory.net

Dokters Sonder Grense verwyder ‘n persoon se liggaam in Guinee wat weens die ebola-virus gesterf het Foto: thewestsidestory.net

Die minister van kommunikasie het Dinsdag gesê die ebola-uitbreking in Wes-Afrika hou nie ʼn bedreiging vir toerisme in Suid-Afrika in nie.

“Die regering wil dit benadruk dat Suid-Afrika steeds een van die gunstelingbestemmings vir toeriste bly,” het minister Faith Muthambi Dinsdag gesê. “Geen voorval van die ebola-virus is al in die land aangemeld nie en die regering is vol vertroue in die stelsels en protokols wat in plek gestel is om enige voorval van die virus aan te spreek.”

Sy het reageer op ʼn berig in The Times-koerant wat aanvoer dat toeriste uit Asië reise na Suid-Afrika gekanselleer het uit vrees vir die dodelike virus. Volgens die koerant het minstens 1 500 toeriste van Thailand hul geskeduleerde vakansies in Augustus en September gekanselleer.

“Dit is jammer dat die koerant besluit het om te berig dat ʼn handjievol toeriste hul reisplanne gekanselleer het, wat volgens die berig boonop op onjuiste feite oor die virus gebaseer is,” het Muthambi bygevoeg. Sy sê die risiko dat Suid-Afrika aan ebola blootgestel sal word bly laag en die toerismebedryf bly winsgewend en vooruitstrewend.

Die dodetal in Wes-Afrika staan nou reeds op minstens 1 145. Volgens die Agence France-Presse-nuusagentskap het Liberië tot dusver die hoogste dodetal, naamlik 413, aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.