Ebola-skrik by Potchefstroom-hospitaal

Die ingang van die Potchefstroom-hospitaal. Foto: Google Maps

Die ingang van die Potchefstroom-hospitaal. Foto: Google Maps

Personeel en die ongevalle-afdeling by die Potchefstroom-hospitaal in Noordwes is Woensdagaand oornag onder kwarantyn geplaas nadat ʼn 72-jarige man met hoë koors daar opgeneem en gevrees is dat hy met die ebola-virus besmet is.

Tebogo Lekgethwane, ʼn woordvoerder van die provinsie se departement van gesondheid, het Donderdag aan Maroela Media bevestig die stap was slegs ʼn voorsorgmaatreël totdat meer inligting oor die pasiënt beskikbaar was. Hy het gesê die kwarantyn is intussen opgehef.

“Die man is opgeneem nadat hy gekla het van hoë koors, tamheid en ʼn hoes,” het Lekgethwane gesê. “Hy het simptome van hemorragiese koors gehad en is geïsoleer terwyl bloedtoetse gedoen is.”

Lekgethwane het gesê infeksiebeheermaatreëls is verskerp en die man en die personeel is onder kwarantyn geplaas totdat die uitslag van sy toetse ontvang is.

“Volgens die man se verslag is hy van ʼn plaaslike landbougemeenskap en het hy nie na enige Afrika-lande gereis nie. Hy kon dus nie die ebola-virus opgedoen het nie.”

Die man is intussen na die Tshepong-hospitaal in Klerksdorp oorgeplaas, wat as ʼn ebola-behandelingsentrum in die provinsie geïdentifiseer is. Die man gaan verdere behandeling daar ontvang en waargeneem word.

Die ongevalle-eenheid by die Potchefstroom-hospitaal is ontsmet en alle bedrywighede het na normaal teruggekeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.