‘Ebola-toetse’ veroorsaak ‘chaos’ by Beitbrug-grenspos

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Sakeman van Randhart in Alberton was vir langer as vier ure by die Beitbrug-grenspos vasgekeer nadat daar volgens hom “absolute chaos” was om mense vir ebola te toets voor hulle Suid-Afrika van Zimbabwe af kan binnekom.

Thinus Becker (54) het aan Maroela Media gesê mense het vir “kilometers in rye gestaan soos skape in ʼn drukgang”. Volgens Becker het hy vinnig deur die Zimbabwiese-kant deurbeweeg waarna “alles geblok was en mens vir ure lank gestaan het”. Becker het gesê niemand wou vir hulle sê wat aan die gang is nie.

Hy kon egter daarin slaag om verder aan te beweeg en ʼn beampte het vir hom gesê hulle het opdrag gekry om almal wat Suid-Afrika wil binnekom vir ebola te toets. Becker het probeer foto’s neem van die chaos toe ʼn polisiebeampte glo sy foon afgeneem het en al die foto’s daarop uitgevee het. Volgens Becker het hulle aanhoudend gedreig om hom in hegtenis te neem.

“Ek kon uiteindelik daarin slaag om in die gebou te kom waar my paspoort gestempel word en dis hier waar ek gesien het dat daar een skandeerder is. Die skandeerder bepaal of ʼn persoon koorsig is en wys dan ʼn groen of ʼn rooi lig. Ek het ʼn groen lig gekry en kon hierna eers in die ry gaan staan om my paspoort te laat stempel.” Volgens Becker is dit verregaande dat daar slegs een skandeerder is. “Die hele ding is uiters swak gereël.”

Becker het omstreeks 08:00 al by die grenspos aangekom en was om 12:15 eers in Suid-Afrika. “Daar het ou mense en mense met babatjies in daardie ellelange toue gestaan. Daar is geen badkamergeriewe nie en ʼn vrou moes in die ry staan en urineer want daar is nêrens om heen te gaan nie.”

Joe Maila, nasionale woordvoerder van die departement van gesondheid, het intussen aan Maroela Media gesê daar was dalk net baie mense wat die land binnegekom het vir die Desember-vakansie. “As ʼn land sal ons voortgaan om seker te maak dat mense wat die land inkom en verlaat nie iets het nie. Dit gebeur by alle grensposte.” Op ʼn vraag aan Maila of daar wel ʼn skandeerder by die Beitbrug-grenspos is, het hy geantwoord: “Moontlik is daar”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

cobus ·

Dit is nie so bad nie dit is normaal vir daai grens pos of hulle nou toets of nie.
Stap uit en kyk na die verkeer op daai pad veral die tyd van die jaar.

Hy kan bly wees hy staan nie nou nog daar nie.

Drieks ·

Hoekom stel hul nie MEER personeel aan by die grensposte nie. 1998 toe die teerpad deur botswana geoppen was, het ons daar deur gery oor Lobatshe grens na Namibia. Daar was minimum verkeer. Nou is dit onsettend besig daar en die personeel nog dieselfde getal.. Die trokke staan daar tot 75 op altwee grense per keer.

Paul ·

Daardie temperatuurskandeerders help niks. Dis baie maklik om daarby verby te kom – drink eenvoudig ‘n klompie pille voor die tyd wat koors tydelik verlaag en jy is deur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.