Ebola-virus: ‘Geen rede tot kommer in SA nie’

Ebola-virus

Ebola-virus

Daar is geen rede vir Suid-Afrikaners om paniekerig te wees oor die uitbreking van die ebola-virus in Wes-Afrika nie, het die minister van gesondheid gesê.

Minister Aaron Motsoaledi sê in ‘n verklaring dat Suid-Afrika op ‘n hoë gereedheidsgrondslag is en dat voorsorgmaatreëls getref is om te verseker dat die virus nie die land binnekom nie.

Motsoaledi sê die departement van gesondheid in samewerking met die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOD) het met die aanvang van die uitbreking ‘n waarskuwing aan amptenare by die land se grensposte gerig.

Hy sê die Burgerlugvaartowerheid is ook in kennis gestel. “Die BLO het ‘n vergadering gehou waar al die rolspelers in die lugvaartbedryf ingelig is oor die situasie in Wes-Afrika.”

Organisasies wat siek pasiënte na Suid-Afrika vervoer was ook by die vergadering teenwoordig. Gesondheidswerkers is beveel om uit te kyk vir reisigers wat Wes-Afrika besoek het.

Motsoaledi sê Suid-Afrika se lughawens is gereed om enige moontlike gevalle van die ebola-virus te hanteer.

“OR Tambo-lughawe en Lanseria-lughawe het skandeerders wat kan optel indien ‘n persoon ‘n verhoogde temperatuur het. Indien dit die geval is, word die persoon by ‘n mediese fasiliteit by die lughawe ondersoek.”

Meer as 670 mense is reeds dood sedert die aanvang van die uitbreking.

Lees ook:
VSA-dokter met ebola “is swak, baie siek”
Lugredery skort vlugte op weens ebola-uitbreking
Vierde land meld Ebola-gevalle aan
Ebola-sterftes styg steeds
Ebola-sterftes nou meer as 140
Ebola-virus eis 121
Ebola-uitbreking bevestig

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.