Edenvale-tier dalk weer gevang

Skermskoot van die video wat vroeër op sosiale media gedeel is.

Die private sekerheidsmaatskappy SWAT SOS het op Facebook aangedui dat die jong tierwyfie wat Maandagoggend in Edenvale aan die Oos-Rand gewaar is, gevang is.

Dit is egter nog nie deur die Dierebeskermingsvereniging (DBV) of die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) bevestig nie.

“Eenhede het gehelp om die tier in Edenvale op te spoor en te vang. Die dier is verdoof en na ʼn reservaat vir veilige bewaring geneem. Geen verdere inligting sal in dié stadium bekend gemaak word nie,” het die maatskappy op sy Facebook-blad by ʼn foto van ʼn tier gesê.

Gary Wilson van SWAT SOS het dié nuus ook in ʼn video op Facebook en Twitter bevestig. Dié kort onderhoud met Wilson is deur ʼn verslaggewer van Times Live gevoer.

Wilson sê in die video dat dit “goed gaan met die tier”.

“Dit het goed uitgedraai, die tier is veilig, maar ons gaan nie verdere besonderhede deel nie.”

Die foto van die tier wat SWAT SOS op Facebook gedeel het.

Keshvi Nair, die DBV se nasionale woordvoerder, sê egter dat dié organisasie nog geen inligting ontvang het wat die maatskappy se bewerings bevestig nie.

Die GPF kon dit ook nie aan Maroela Media bevestig nie.

Die DBV het vroeër gesê die tier lyk soos ʼn jong wyfie van sowat nege maande oud.

*Hou Maroela Media dop vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pierre ·

Ek vermoed die eienaar het hulle gekry om die tier te verdoof en terug te besorg, en wil anoniem bly om nie in die moeilikheid te kom nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.