Edgar wakker, gesels en drink Oros

Edgar nadat hy wakker gemaak is. Foto: Facebook

Dit gaan baie beter met Edgar Julyan, die seuntjie van Potchefstroom wat Vrydagmiddag byna verdrink het. Edgar is Donderdagoggend wakker gemaak nadat hy sedert die voorval onder verdowing gehou is om swelling op sy brein te verminder. Die 21 maande oue seuntjie is ook onder ‘n yskombers geplaas om sy liggaamstemperatuur te verlaag.

Sy ma, Marlene van den Berg-Julyan, het Donderdagaand gesê: “Boeta het ‘n halwe bottel verdunde Oros gedrink! Hy was so dors. Hy is darem bietjie rustiger na sy hele dag se manewales. Ek prys ons God!” Hy het ook “pappa” en “mamma” gesê.

Maroela Media het Maandag berig Edgar se pa, Frank, het gesê hy was Vrydag besig om tee te maak in die kombuis toe hy besef het Edgar is weg. “Toe ek buite kom, het hy met sy gesig na onder in die water gedryf.” Frank het sy enigste kind uit die water gehaal en dadelik mond-tot-mondasemhaling begin toepas. “Sy hartjie het nie meer geklop nie en hy het ook nie asemgehaal nie,” het Frank bygevoeg.

Volgens sy ouers was Edgar nie langer as vyf minute onder die water nie. “Edgar se skopfietsie was ook in die swembad, so hy het moontlik in die swembad geval,” het Frank gesê.

In die stadium lyk dit nie of Edgar enige breinskade opgedoen het nie. Dit is ook nog nie seker wanneer hy ontslaan gaan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SANETTE HENNING ·

WONDERWERKE GEBEUR NOG PRYS DIE HERE AL DIE GEBEDE IS VERHOOR EEN VAN DIE DAE HOL DIE MANNETJIE WEER DIE WERELD VOL HY IS N KLEIN WONDERWERKIE

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.