‘Edgars-verdagtes’ saam met 1 020 ander vas

Argieffoto: https://pixabay.com

Ses verdagtes, wat glo vroeër vandeesmaand deel was van ʼn reuserooftog by ʼn Edgars-tak in Johannesburg, is dié naweek vasgetrek.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagtes is in Jeppestraat in Johannesburg in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere en ongelisensieerde vuurwapens.

“Die goedere is vermoedelik gesteel tydens ʼn besigheidsrooftog wat op 2 Februarie by ʼn Edgars-tak in Johannesburg plaasgevind het. Ses verdagtes het sowat 100 selfone ter waarde van R170 000 gesteel,” het Masondo gesê.

ʼn Intelligensiegedrewe ondersoek het die span, wat bestaan uit lede van die polisie en die Johannesburgse metropolisie (JMPD), na ʼn woonstel in Johannesburg gelei waar die meeste van die selfone aangetref is.

“Die polisie het ook beslag gelê op ongelisensieerde vuurwapens wat glo tydens die pleeg van die misdaad gebruik is. Die ses mense, vyf mans en een vrou, wat in die woonstel was, is in hegtenis geneem,” het Masondo gesê.

Die polisie gaan ondersoek instel om te bepaal of die verdagtes aan ander besigheidsrooftogte verbind kan word.

Drie ander verdagtes is ook in verband met ʼn besigheidsroof in Midrand in hegtenis geneem en twee ongelisensieerde vuurwapens is ook by hulle aangetref. Die verdagtes is by Bowline Company in Midrand in hegtenis geneem en daar is ook op hul wegkommotor, ʼn VW Transporter, beslag gelê.

Die polisie vermoed dat dié voertuig gekaap is.

Die polisie het ook ander operasies oor die hele provinsie uitgevoer en altesaam 1 020 verdagtes vasgetrek op aanklagte van onder meer diefstal, aanranding, verkragting en die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

ontevrede leser ·

so baie verdagtes in n paar dae, polisie hou so aan, een van die dae is suid afrika weer “skoon”

Antoinette ·

Dit maak mens weer trots op die Polisiediens. Well done!

Lollie ·

Uitstekende werk! Dit wys dat dit kan gedoen word. Dit hang net af of hulle wil of nie maar die persoon in beheer tel baie.
Dis baie pragtig om hulle te vang maar nou is die vraag watter straf gaan hulle kry? Baie kom op borg uit en gaan dan net aan met sy bedrywighede, ander sit skaars in die tronk dan is hulle weer uit. Die polisie alleen kan nie die misdade stop nie, die howe moet hulle deel doen en die polisie wys dat hulle werk nie verniet was nie.
Pragtig, hou so aan om aan ń beter land te bou!

PJC ·

Ek wonder of dit die selfone of die geld is wat hierdie mense so fasineer. Ek het al dikwels gesien hoe reageer hulle as hulle ń vuurwapen sien maar dit lyk of selfone amper dieselfde uitwerking het.

Nou weer die regsisteem ·

Mooi so polisie, maar nou gaan die howe hulle seker laat vrygaan. Laat uitbyl val!!!

Piet Pompies ·

Goeie werk, dit is nodig en enige voornemende skelm sal nou twee dink voor hy die wet oortree. Dit is net jammer dat uit hierdie goeie berig nog steeds negatiewe kommentaar is. Wees deel van die oplossing, moet nie deel van die probleem wees. Soos ons Ds sy preek Sondag afgesluit het, doen goed wat vir jouself en God goed is.

Gerrit ·

Hulle moes hulp gehad het van die trio taakmag en /ook n goeie sekuriteits reaksie maatskappy om die sukses te behaal maar goed so baie geluk hou so aan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.