Een dood, 10 beseer in trompop botsing

Foto: ER24

ʼn Man is dood en tien mense beseer toe ʼn bakkie en ʼn motor Sondagaand in Carletonville in Gauteng reg van voor gebots het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die botsing het op die Welverdiendpad gebeur. By paramedici se aankoms op die toneel het die voertuigwrakke aan weerskante kante van die pad gelê.

“Twee mans was nog in die bakkie terwyl verskeie mense op die toneel verspreid gelê het. By nadere ondersoek het paramedici gesien die bestuurder van die bakkie het reeds aan sy veelvuldige beserings beswyk. Die passasier in die bakkie was in ʼn kritieke toestand,” het Meiring gesê.

Hy het gesê nog nege mense het geringe tot matige beserings opgedoen. Die kritiekbeseerde man is met ʼn mediese helikopter na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer terwyl die ander pasiënte per ambulans na ʼn hospitaal geneem is.

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie en sal deur die polisie ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Veronica ·

Ek het lank in Welverdiend self gebly en die pad tussen Carletonville en Welverdiend is bekend vir ongelukke. Daardie pad dra geweldige verkeer en die regte ding sou wees as dit dubbele bane kon wees met goeie beligting snags vanaf Welverdiend tot in Carletonville. My innige simpatie met die families van die oorledene en beseerdes …
2 Hoofoorsake van sterftes deesdae is Padsterftes en Plaasmoorde. . . .

Cherokee ·

Veronica, ek het in Welverdiend skool gegaan en daar groot geword. My eerste huis in Welverdiend laat bou en vir dekades daar gewoon.

chavonne ·

en so kom ons almal bymekaar! net jammer dis oor sulke slegte nuus

Veronica ·

Cherokee, wel aangename kennis . . . . self het ek ook lank daar gewoon en my kinders was ook in laerskool. Mis nogal die plek met sy rustigheid en hoenders wat soggens kraai , kinders wat in strate speel en dan die kafee lanks garage met sy lekker slap chips. Dis nou te sê as jy van die ou Welverdiend praat en nie die nuwe een waar Polisie stasie is nie

Cherokee ·

Hallo Veronica… ek praat van dieselfde deel as jy. Noem dit somtyds Welverdiend-Noord. Soos jy dit noem, die ou Welverdiend (anderkant die spoorlyn). Het sowat 5 jaar gelede weer daardeur gery terwille van herinneringe maar die pragtige plaasdorpie soos ons dit geken het, het verander in verslonsde agtertangse agterbuurt. Dit was ‘n mooi plekkie waarvan in die geskiedenisboeke gelees word; Danie Theron se wêreld gewees.

Adri ·

Volgens HAT beteken tromp-op iets heeltamal anders as kop-aan-kop. Dit beteken om iemand regstreeks te berispe. Karre kan dit nie doen nie.

Landi Slatter ·

Dagsê Adri

Dankie vir jou kommentaar. Die sesde uitgawe van die HAT meld ondermeer dat ‘trompop’ ‘n “botsing reg van voor” is. “Die motors het trompop teen mekaar gebots.”

Ons hoop dit klaar nou die verwarring op.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.