Een dood, 12 beseer op Gautengse paaie

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Een persoon is dood en minstens 12 ander beseer ná vier afsonderlike botsings tot dusver die naweek in Gauteng.

Een persoon het Saterdag in die vroeë oggendure omgekom nadat ’n motor die N12 naby die Trichardt-brug in die omgewing van Boksburg aan die Oos‑Rand verlaat het. Nog ʼn persoon is in dié voorval beseer.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, sê paramedici is omstreeks 01:00 na die betrokke ongelukstoneel ontbied waar een pasiënt dood verklaar is en die ander na ’n hospitaal vervoer is vir mediese behandeling.

Dié noodlottige ongeluk volg nadat twee minibustaxi’s Vrydagaand reg van voor in Benoni, ook aan die Oos‑Rand, gebots het.

Paramedici is omstreeks 20:30 na dié ongelukstoneel in Lutonweg ontbied. Een persoon is ernstig beseer terwyl twee ander matige beserings opgedoen het.

Die drie pasiënte is almal op die toneel behandel voordat hulle hospitaal toe geneem is.

ER24 Vaal het later die aand ook gereageer op ’n botsing tussen ’n vragmotor en ’n motor by die R82‑ en R57-kruising waartydens drie mense beseer is.

Nóg ’n botsing op die R42 het gisteraand drie ander beseer gelaat. Niemand het ernstige beserings in dié voorval opgedoen nie.

Die plaaslike owerhede was op die onderskeie ongelukstonele om ondersoek in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Swerwer ·

Waarom word daar nie opgetree teen die bestuurders nie. Almal weet wat die oorsaak van die ongelukke is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.