Een dood, 14 beseer toe voertuie rol

Die taxi wat op die R61 in Port Edwards gerol het. Foto: Netcare 911

Die taxi wat op die R61 in Port Edward gerol het. Foto: Netcare 911

Een mens is dood en 14 ander beseer nadat twee voertuie in twee afsonderlike ongelukke gerol het onderskeidelik naby Dalton en Port Edward in KwaZulu-Natal.

Chitra Bodasing-Harduth, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici is Saterdag in die vroeë oggendure na ʼn ongelukstoneel ontbied op die P278 buite Dalton in die rigting van Greytown. ʼn Bakkie het gerol en in die veld langs die pad tot stilstand gekom.

“Van die insittendes is tydens die ongeluk uit die bakkie geslinger. ʼn Man het voor paramedici se aankoms op die toneel reeds aan sy beserings beswyk, het Bodasing-Harduth gesê. “Nog ʼn pasiënt het ernstige beserings opgedoen, terwyl agt ander ligte tot matige beserings opgedoen het.” Die beseerdes is per ambulans na ʼn hospitaal geneem.

Intussen is nog vyf mense beseer toe ʼn taxi Vrydag omstreeks 19:00 op die R61 in Port Edward gerol het. Athlenda Mathe, woordvoerder van Netcare 911, het gesê sommige insittendes het ernstige beserings opgedoen terwyl ander matig beseer was.

“Die oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie, maar word deur die polisie ondersoek,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

AP van Schalkwyk ·

Lig asb die oersoon wat hierdie berig geskryf het dat daar NIE n plek soos Port Edwards is nie. Die dorp se naam is Port Edward (sonder n es)

Mariné Lourens ·

Dagsê AP van Schalkwyk

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.