Een dood, 17 beseer in gru-botsing

Die wrak van die taxi. (Foto: ER24)

’n Man is dood en 17 mense beseer in ’n botsing Vrydag tussen ’n motor en ’n taxi in die weste van Johannesburg.

Volgens Russel Meiring, ER24-woordvoerder, is nooddienste Vrydagoggend na ’n ongelukstoneel in Hendrik Potgieter-weg in Strubensvallei ontbied waar hulle ’n taxi op sy sy langs die pad aangetref het.

Volgens Meiring is ’n motor ’n kort afstand daarvandaan aangetref met erge skade aan die linkerkant van dié voertuig.

Die bestuurder van die motor was binne-in die wrak vasgekeer. Die bestuurder van die taxi het bewegingloos agter in die taxi gelê terwyl nog ’n passassier in dié wrak vasgekeer was.

Meiring kon bevestig dat die taxibestuurder ná ’n mediese ondersoek op die toneel dood verklaar is. Die ander twee vasgekeerdes is albei in ’n bedenklike toestand uit die wrakke met spesiale masjinerie gesny waarna hulle behandeling moes ontvang.

Altesaam 15 ander passassiers het gedurende dié botsing ligte beserings opgedoen. Almal is op die toneel behandel waarna hulle na verskeie hospitale in die omgewing geneem is vir verdere behandeling.

Owerhede was op die toneel om die ongeluk te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Koos de Meyer. ·

Die hoeveelste taxi ongeluk al vir hierdie jaar. Daardie bestuurders gee nie ‘n flenter om hoe hulle bestuur nie. Gaan oor dubbel wit lyne, jaag, ry op die geel lyne en stop in ‘n draai baan, druk voor jou in en ry dan reguit oor. Wetteloos.

Karolis ·

Met jou stem ek volmond saam.
Wetteloos in die oortreffende trap.

Nettie ·

Dis hoekom, as ek ‘n minibus-taxi síén, wag ek maar eers of gee ek die taxi kans om te doen wat hy wil, want my lewe is meer werd as ‘n paar sekondes.

En dit is nie die regte ding om te doen nie; padreëls is vir almal en almal wat die pad gebruik, het reg daartoe. Dis mos maar soos daardie gesegde gaan: “All animals are equal, some animals are just more equal than others”.

Mpia le Katse ·

Sou graag die storie verder wou kon volg. Klink besonder ongewoon.

hermann ·

Woensdag oggend omtrent 08h00 op die N4 net voor die Balmoral, Kendal afrit. Taxi agter in n kole trok ingejaag. Al drie die insitendes wat voor gesit het , bestuurder ingesluit , opslag dood.

Liezl ·

As ek ‘n robot in ‘n ongeluk sien, dan het spoed beslis ‘n rol gespeel en iemand het gery, wat nie moes gery het nie. As jy by die reëls gehou het, dan sou dit nie gebeur het nie.

Arie ·

Aan Liezel,
As almal hulle streng aan die padreëls hou sal insidente van skade aan voertuie en mense met handomkeer verbeter.
Daarom probeer ek self my altyd aan die padreëls te hou. Tot dusver werk dit nogal vir my.

Skokkend ·

ALMAL ry deesdae soos die taxi bestuurders. Op Hendrik Potgieter en by Clearwater Mall is daar draai pyltjies. As dit rooi is moet jy stilstaan en wag totdat dit verander na ‘n groen pyltjie. Elke liewe dag sien ek gewone ouens in gewone karre, groot, klein, duur, goedkoop, en almal draai heel vrolik regs terwyl die robot rooi is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.