Een dood, 2 beseer na trein teen motor bots

Die ongelukstoneel. Foto: @ShaneOfCapeTown op Twitter.

Die ongelukstoneel. Foto: @ShaneOfCapeTown op Twitter.

Een persoon is dood en twee mense is beseer nadat ʼn trein teen ʼn motor gebots het by ʼn spooroorgang in Stellenbosch in die Wes-Kaap.

Volgens Riana Scott, woordvoerder van Metrorail, was die oorledene en beseerdes almal insittendes van die motor. Sy het gesê die botsing het omstreeks 06:24 by die Bergkelder-spooroorgang plaasgevind.

Scott het gesê die oorledene is op die toneel dood verklaar terwyl die beseerdes na die Stellenbosch Provinsiale-hospitaal geneem is vir behandeling. Die treindrywer was erg geskok en is van die toneel verwyder.

“Die polisie se forensiese span is op die toneel om hul ondersoek doen,” het Scott gesê. Metrorail se tegniese spanne sal die toneel fynkam sodra die polisie klaar is.

“Die trein sal verwyder word en die nodige herstelwerk sal gedoen word. Pendelaars sal met busse tussen die Stellenbosch- en Muldersvleistasies vervoer word tot die spoor weer heropen word,” het Scott gesê.

Richard Walker, Metrorail se streeksbestuurder, het sy medelye betuig met die oorledene se familie en die beseerdes ʼn spoedige herstel toegewens. Hy het ʼn beroep op voetgangers en motoriste gedoen om uiters versigtig te wees by spooroorgange.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.