Een dood, 2 beseer toe motor rol

Foto: Netcare 911

ʼn Vrou is dood en twee ander mense beseer toe ʼn motor Sondagmiddag op die R21 by Witfontein, naby Kempton Park, gerol het.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê paramedici is omstreeks 12:15 na die toneel ontbied. Die bestuurder van die voertuig het vermoedelik beheer oor die motor verloor, waarna dit gerol en op sy dak langs die pad beland het.

“ʼn Vrou wat vermoedelik op die agtersitplek van die motor was, het in die ongeluk gesterf. ʼn Man, glo die bestuurder, het matige beserings opgedoen, terwyl ʼn vrou in die passasiersitplek ernstig beseer is,” het Herbst gesê.

Die beseerdes is op die toneel behandel voordat hulle na ʼn hospitaal gehaas vir verdere behandeling.

Die ongeluk word deur die polisie ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

IK ·

Enigiets kon hier gebeur het en ek gaan my weerhou van raaiwerk. Ek kan net meld dat in my 58 jaar (ongeluksvry) en met 8 voertuie (sommige gelyktydig) besit het nie een die neiging gehad ‘om die pad te verlaat’. Lank voor K53 het ek my bestuurslisensie gekry met slegs 8 dae se leerlinglisensie op ‘n klein plattelandse dorpie. Dankie pa vir jou opleiding en die voorbeeld wat pa gestel het van hoe om te bestuur. Natuurlik het die deelname aan tydrenne en ons eie ovaalbaan (grond) bygedra om te kan leer hoe om ‘n voertuig te hanteer. Nou se dae word daar mos in die strate gejaag om ‘af te show’. Onlangs was daar weer dood op die pad omdat daar ‘ge-dice’ is. ‘n Kar is net soos ‘n vuurwapen ‘n speelding net op die regte plek anders wag die dood vir jou. Hoe gouer aandag gegee word om beter opleiding te gee as die K53 hoe beter vir almal. Natuurlik is daar diegene wat nie op die pad hoort.

Daan ·

In die 35 jaar wat ek bestuur het my ou motortjie (Mazda Rx2) ook die pad verlaat en omgeslaan, presies 7 dae nadat ek my lisensie gekry het. Daarna nooit weer ‘n stuurwiel met een hand se vingerpunte vassgehou nie. Al bars jou motor se band sal jy nie die pad verlaat as die stuurwiel korrek vasgehou word met albei hande nie.

Matt ·

Ons gaan mos deesdae almal met 3 ton LAW vir onse leerling en bestuurslisensies en het dus geen idee hoe om met ‘n gewone sedan te ry nie. Ons spoed tydens die leerlingfase is ‘n fenominale 35 km per uur en as ons dan ons lisensie kry, koop ons onmiddelik ‘n sedan motor waarmee ons wil spog en gladnie kan hanteer wanneer ons vinniger as 80 ry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.