ʼn Man in sy 30’s is Vrydag doodgeskiet en drie ander beseer tydens ʼn skietery by ʼn taxistaanplek in KwaZulu-Natal.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die voorval het Vrydag in Hillstraat in Pinetown plaasgevind.
Volgens hom was die polisie reeds op die toneel toe paramedici opdaag.
“Paramedici het ʼn man se liggaam langs die sypaadjie aangetref en drie ander ʼn ent weg sien sit. Die man wat langs die sypaadjie gelê het, het veelvuldige skietwonde opgedoen en is op die toneel dood verklaar,” het Meiring gesê.
Volgens Meiring is die drie ander matig beseer.
“Hulle is op die toneel behandel en na RK Khan- provinsiale hospitaal vervoer vir verdere mediese behandeling.”
Die polisie was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.