Een dood, 3 beseer toe staatsvoertuig met motorfietsryers bots

Argieffoto

ʼn Motorfietsryer is dood en drie ander beseer nadat ʼn bakkie Vrydagmiddag buite Bloemfontein in die Vrystaat in ʼn ongeluk met ʼn groep motorfietsryers wat in ʼn konvooi gery het, betrokke was.

Ineke van Huyssteen, woordvoerder van ER24, sê paramedici is omstreeks 16:00 na die toneel op die N8 in die rigting van Thaba ’Nchu ontbied waar verskeie beseerde motorfietsryers verspreid oor die pad gelê het.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê ʼn werknemer van die Vrystaatse departement van landbou was saam met ʼn kollega in ʼn wit Ford Ranger onderweg na Bloemfontein toe sy na bewering beheer oor dié voertuig verloor het en in ʼn botsing met ʼn groep motorfietsryers buite die stad betrokke was.

“Die motorfietsryers het tot stilstand gekom, waarna ʼn blou Toyota Avanza, op pad vanaf Bloemfontein na Botshabelo, teen van die motorfietse gebots het,” sê Makhele.

Volgens Van Huyssteen is twee motorfietsryers ernstig beseer in die botsing en een van hulle is per ʼn helikopter vir mediese behandeling na ʼn hospitaal geneem. Die ander motorfietsryer is per ambulans na ʼn hospitaal gehaas, maar het met sy aankoms by die hospitaal aan veelvuldige beserings beswyk.

Die bestuurder van die bakkie het ligte beserings opgedoen en is op die toneel behandel voordat sy vir verdere mediese behandeling na ʼn hospitaal geneem is.

ʼn Saak van strafbare manslag word ondersoek.

Maroela Media verneem die motorfietsryers was lede van die Crusaders MCC-motorfietsklub.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Reguit ·

Natuurlik weer in n bondel gery, soos gewoonlik. Dan word motoriste, wie swaar belas word om die openbare paaie te gebruik die skuld gegee.

schaun ·

Ek respekteer jou opinie maar stem nie saam met wat jy sê nie ,motorfiets bestuurders is nie beskerm soos in n toe voertuig met lugsakke nie daarom is hulle meer bedag op hulle omgewing en ander padgebruikers.

Bernard Hellberg ·

Eerstens, die “wie” is ‘n “wat.” Tweedens, was jy daar? Indien nie, is jy heldersiende?

Harties Inwoner ·

N man is oorlede…was jy daar……..het jy dit sien gebeur.
Hou jou negetiewe kommentaar vir jouself.

Wim ·

Nee man, dink bietjie reguit. Was jy teenwoordig en kan jy getuig dat hulle in ‘n bondel gery het. Moet nie altyd ‘n eiertjie lê as jy nie eers weet waar die nes is nie.

Innige simpatie met die oorledene se naasbestanes en vriende en ons bid op spoedige beterskap vir die beseerdes.

Nee, ek het nie ‘n motorfiets nie.

Karlahari ·

My vriend.
Die bakkie het oor die pad geswenk reg voor die motorfiets ryers in.
Ek het ook n issue met motorfiets ryers maar hier was hulle die onskuldige party.
Leë pot hou toe jou deksel dan word jy vir n volle aangesien…..

Privaat ·

Dit is motorfiets ryers i.e motorbikes ……. nie fiets ryers nie en ons word ook swaar belas net soos jy………..
ons ry in scattered form en nie in bondels nie. Maak asb eers seker van jou feite asb.

Rina ·

Daardie pad is n oop pad …. sy was onverskillig …. sy weet wat is die ware waarheid.

Poppie ·

Dit was nie sy wat sy dood veroorsaak het nie. Sy het beheer verloor. Dit is die Avanza wat nie veronderstel is om n lisensie te he of om te kan bestuur nie. Seker n taxi ook nog. By ons is al die taxies Avanzas

Gertryda ·

Motorfiets ryers ry nie in bondels nie. Moenie altyd skuld vir hul gee nie.
RIV my maat.
Hoop die bestuurder ry aan die pen

Rina ·

Innige simpatie aan families en persone wat geraak word en asb publiek dit was in die geval nie die bikers se skuld nie ….voor jul weer kritiseer.

Chris du preez ·

het sy n bestuurders lisensie. of gaan hy nou uitgereik word met n terugwerkende datum

schaun ·

Almal het lisensies ,daarom dat jy elke dag lees van die valke wat inspekteurs arresteer by toetstasie, minimum van R 3000.00 kan jy enige kode lisensie landswyd kry nog n rede waarom ons n onafhanklike tuisland soos lesotho moet kry.

Koos de Meyer. ·

Dit is nou maar weereens bewys, onbevoeg, beheer verloor op ‘n oop reguit pad. My voet , daar is teveel van hulle wat beheer verloor punt.

Coco ·

Sekerlik onbevoeg om n voertuig met veiligheid te kan besuur

LANA ·

Soos wat ek party bestuurders sien, kan hulle nie beheer verloor nie, want hulle het nog nooit beheer gehad nie!

Leon Dormehl ·

Nee “Reguit”, jy maak afleidings wat niks minder as walglik is nie. Dit terwyl jy nie die feite het nie! Die berig sê hulle was in konvooi. Motorfietse is wettige padvoertuie wat normaalweg ‘gestagger’ ry.
Hier is ‘n Christenpersoon oorlede en jy is so veroordelend? Skaam jou.

Meraai ·

Al hoe meer onskuldige mense sterf en die skuldiges stap net weg, maak my geweldig kwaad

Alida ·

Die fietse het reg op die pad en doen baie goeie werk. Dit is onverantwoordelike bestuurders wat nie hul oe op die pad hou nie en jaag op n reguit pad. 10/1 op die selfoon gewees of sonder lisensie.

DeziB ·

Ja Alida, ongelukkig dink mense bitter min aan wat hul doen. Dit dink nie aan hul eie veiligheid, wat nog van ander sn.

Netta ·

Hierdie groep motorfietsryers is net voor Winburg op N1 by my verby. Hulle het ordentlik en beskaafd by my verbygekom en dankie gesê. Maar twee staatsvoertuie het behoorlik oor spoedgrens ook verbygekom. Baie jammer vir almal betrokke.

koos ·

Hier is klomp komentators wat kan help met die ondersoek aangesien hulle op die toneel was en gesien het hoe die ongeluk gebeur het en al die bestuurders blykbaar geken het.
Ek raak moeg vir ongegronde bewerings.

Kolskoot ·

Wie het beheer oor die Ford bakkie verloor die motorfietse moenie belaglik wees nie weereens n onkundige agter die wiel van n voertuig

jennefer ·

Haal al die kode 10 lisensies van die paaie af! Dis vir n ligte, stadige vragmotortjie nie n vinnige bakkie nie.

DeziB ·

Ek het net van die reaksies gelees maar sien rooi! Bikers is my mense… omgee mense, wat eerlik en opreg is. Daar is altyd lede van die publiek wat motorfietsryers sal blameer. Hulle vergeet dis mense soos elke ander persoon – wat selfs meer omgee as 99% van die grootbekke.

Sterkte aan elke motorfietsryer, familielid en vriend, weet asb al het ons mekaar ni geken ni, hierdie persoon het my en n paar ander geleer wat dit is om MENS te wees.

Aan die wat beseer is, bid vir julle vinnige herstel.

RIV mense mens.

Marina ·

Vertel net iemand vir my hoe verloor jy beheer oor jou kar? Verstaan nie dit, jy as bestuurder moet mos so bestuur dat jy te alle tye beheer oor jou voertuig het en wakker bestuur vir die onvoorsiene gebeurlikhede?

Jane ·

Die strook van die N8 waar die ongeluk gebeur het is ‘n aaklige stuk pad en daar is kort-kort ongelukke. Die probleem op daardie pad is motoriste wat te vinnig ry en kanse vat teen die blindehoogtes. Ek ry nie self motorfiets nie, maar elke keer wat ek nog ‘n konvooi van hulle op die pad gekry het, het hul ordentlik gery. Ek maak pad (indien moontlik) as ‘n bike wil verby, maar dis as jy as motoris wil aspris wees wat ongelukke gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.