Een dood, agt beseer in trompop botsing

‘n Beseerde vrou moes met gespesialiseerde toerusting uit een van die voertuie bevry word (Foto: Verskaf)

Een persoon is dood en agt beseer, onder wie drie jong kinders, nadat twee voertuie Sondag in ʼn trompop botsing betrokke was.

ʼn Tata Indica het blykbaar deur ʼn plas water gery, waarna die bestuurder beheer oor die voertuig verloor en reg van voor teen ʼn motor in die aankomende baan gebots het.

Volgens Charles Mabaso, woordvoerder van Tshwane se nood- en reddingsdienste, het die ongeluk om 12:36 op die Moloto-pad digby die Roodeplaat Spar in Pretoria-Oos plaasgevind. Hy sê die Tata Indica het in ʼn suidelike rigting beweeg.

“Een vroulike pasiënt is op die toneel dood verklaar nadat sy aan haar beserings beswyk het,” bevestig Mabaso.

“Agt ander persone het van ernstige tot kritieke beserings opgedoen. Onder die beseerdes was vier volwasse mans, drie kinders (onderskeidelik twee, ses en nege jaar oud), en een volwasse vrou.”

Volgens Mabaso moes die beseerde vrou met gespesialiseerde toerusting uit een van die voertuie bevry word.

“Die sesjarige kind het in ʼn kritieke toestand verkeer en moes per helikopter na die Steve Biko- akademiese hospitaal gehaas word. Die ander beseerdes is almal per ambulans na verskeie hospitale in Tshwane geneem vir verdere mediese behandeling.”

Mabaso waarsku motoriste om versigtig op nat paaie te ry.

Die omstandighede van die ongeluk word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.