Bendeleier dood, baba gewond in skietery aan Oos-Rand

Die owerhede vanoggend op die toneel. (Foto: Twitter)

Een persoon is dood en drie ander, onder wie ’n baba, is gewond ná ’n skietery in Boksburg aan die Oos-Rand.

Ernie “Lastig” Solomon, die vermeende leier van die 28-bende, het na wat verneem word in die voorval gesterf.

Die polisie is nou op die spoor van vier verdagtes wat in ’n wegkommotor van die toneel in Kingfisherweg in Freeway Park gevlug het.

Kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, sê ’n wit Ford Ranger met vier insittendes het vanoggend teen ’n wit BMW met vier insittendes gebots.

Twee gewapende mans het uit die Ford Ranger geklim en skote op die BMW afgevuur waarna al vier verdagtes die Ford Ranger agtergelaat en in ’n wegkommotor op die vlug geslaan het.

(Foto: Netcare 911)

Volgens die nooddienste is ’n volwasse man doodgeskiet en drie kinders in die voorval gewond.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê paramedici is omstreeks 08:28 na die toneel ontbied waar medici die man behandel het voordat hy op die toneel dood verklaar is. Die man was die bestuurder van die BMW.

“Twee kinders, vermoedelik 15 jaar oud, het ernstige beserings opgedoen, sowel as ’n baba wat vermoedelik ’n jaar oud is.”

Twee van die kinders is per lugambulans na ’n hospitaal gevlieg. Die derde kind is in privaat vervoer na ’n hospitaal gehaas.

Makhubele sê die motief vir die skietery is in dié stadium onbekend.

’n Saak van moord en poging tot moord word ondersoek.

Die polisie doen ’n beroep op die publiek om enige inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei by hul naaste polisiestasie of die Misdaadstopnommer by 08600 10111 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JM ·

Land van moord en doodslag! Hoe lank moet dit nog verduur word?

koos10 ·

Motief is eenvoudig. Bende verband. Gaan doen bietjie navorsing hoeveel bende lede van oor die hele wêreld bly in die Oos Rand en is al daar vermoor. Carl Kinnear se ondesoek oor bende wapens het juis soontoe verwys. Toeval? Ek glo nie. OR Tambo lughawe is op jou voorstoep vir vinnig weg kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.