Die Wes-Kaapse polisie het bevestig een persoon is Donderdag in ʼn skietvoorval in die Scottsdene-gebied in Kraaifontein dood.
Die voorval het omstreeks 10:00 plaasgevind toe ʼn 25-jarige man doodgeskiet en drie tieners, almal 17 jaar oud, gewond is.
Beeldmateriaal van ‘n skietery tussen bendelede word op verskeie platforms op sosiale media versprei.
Lt.kol. Andre Traut, woordvoerder van die polisie, het gesê geen ander skietvoorvalle is in die gebied aangemeld nie. “Ons wil dit op rekord plaas dat geen ander skietvoorval gister in Kraaifontein plaasgevind het nie. Berigte op sosiale media dat ses mense in die gebied doodgeskiet is, word deur die SAPD weerlê,” het hy gesê.
Hy het gesê hy is bewus van beeldmateriaal wat op sosiale media versprei word waarin gesien kan word hoe die insittendes van ʼn groen VW Golf skote op mense langs die straat afvuur. “Hierdie voorval het nie in Kraaifontein plaasgevind nie,” het hy gesê.
Volgens Traut is polisiebeamptes in die gebied ontplooi. “Ons speurders is hard aan die werk om meer oor gister se voorval uit te vind en genoemsame hulpbronne is in die Kraaifontein-gebied ontplooi om die veiligheid van die gemeenskap te verseker en enige vorm van geweld te onderdruk.”