Een dood, drie gewond toe skote klap

[OPVOLG] Lt.kol. Andre Traut, woordvoerder van die polisie, het Sondagaand bevestig ʼn man is ingeneem vir ondervraging rakende die skietvoorval. Daar is ook beslag gelê op ʼn voertuig wat deur die verdagtes gebruik is tydens die skietery. Die polisie se ondersoek sal bepaal of die man aangekla sal word of nie.

Argieffoto: ER24

Die Wes-Kaapse polisie ondersoek tans die omstandighede van ʼn skietvoorval Saterdagaand in Athlone, Kaapstad, wat een man dood en drie ander mense, insluitend ʼn kind, gewond gelaat het.

Lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, sê die gebeure wat tot die voorval gelei het en die motief vir die skietery is nog nie bekend nie. Niemand is ook nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici is dié aand na 8ste Laan ontbied waar die skietery plaasgevind het. By hul aankoms het hulle ʼn man op die grond aangetref met ʼn noodlottige skietwond en hy is amptelik dood verklaar.

“Twee mans is op die toneel deur paramedici behandel. Een van hulle het ʼn skietwond aan sy arm en agterstewe opgedoen en hy was in ʼn ernstige toestand. Die tweede man het ʼn skietwond aan sy bors gehad,” sê Meiring. Die mans is na nabygeleë hospitale gehaas.

Traut sê ʼn sesjarige kind is ook in die skietery gewond. Dit is nie bekend hoe ernstig die kind beseer is nie.

“Die motief vir die moord en gepoogde moorde moet nog vasgestel word. Enige persoon met meer inligting oor die voorval word versoek om Stop Misdaad by 08600 10111 te skakel,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.