Een man is Sondag dood en een beseer toe ʼn vissersboot by die Struisbaai-hawe in die Wes-Kaap omgeslaan het.
Reinard Geldenhuys, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Agulhas, sê die NSRI het inligting ontvang dat ʼn vissersboot vol water geraak en omgeslaan het. Die NSRI se reddingspan is omstreeks 07:00 saam met die Wes-Kaapse staatsnooddienste, polisie en die Overberg se brand-en-reddingsdienste na die hawe ontbied.
“Met die reddingspan se aankoms op die toneel was sewe vissermanne reeds uit die water gered,” sê Geldenhuys. “ʼn Omstander het kardiopulmonêre resussitasie (CPR) op een van die vissermanne begin toepas. Een van die lede van ons reddingspan het by die omstander oorgeneem, maar kon nie die man bybring nie. Hy is op die toneel dood verklaar.”
Nóg ʼn visserman is vir ernstige hipotermie behandel en hy is per ambulans na die hospitaal vervoer vir verdere mediese behandeling.
Die liggaam van die oorledene is vir ʼn nadoodse ondersoek gestuur en die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur.
Dit is tragies. Innige simpatie met naasbestaandes van die afgestorwene.