Een dood, een gewond in skietery met polisie

Die toneel van die skietery in Modderfontein aan Gauteng se Oos-rand. Foto: ER24

’n Man is dood en nog een kritiek beseer in ʼn skietery Dinsdag met polisiebeamptes aan Gauteng se Oos-Rand.

In die aanloop tot die voorval in Avalonweg, Modderfontein, het die polisie inligting opgevolg op ʼn VW Polo Vivo wat verlede maand in Pretoria gekaap is, sê kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder. Hulle het die voertuig met twee insittendes omstreeks 14:00 aan die Oos-Rand gewaar.

“Die polisie het die voertuig voorgekeer, maar die verdagtes het voet in die hoek gesit, wat tot ʼn jaagtog gelei het,” sê Masondo. “Hulle het op die polisie begin skiet en die polisie het teruggeskiet.”

Een van die verdagtes is noodlottig gewond en ʼn tweede is raak geskiet.

Die polisie het beslag gelê op twee vuurwapens, balaklawas en die voertuig wat vermoedelik gekaap was.

“Die beseerde verdagte is onder polisiebewaking na ʼn hospitaal gebring,” sê Masondo. “Hy sal in die hof verskyn sodra hy genoegsaam herstel het.”

Russel Meiring, ER24-woordvoerder, het vroeër gesê toe paramedici by die toneel opdaag, het hulle ʼn man aangetref wat in die pad gelê het met ʼn kopwond, terwyl ʼn tweede man daar naby gekry is met ʼn skietwond in sy bors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

De Villiers ·

Weereens uitstekende werk, SAPD! Dankie dat julle jul lewens op die spel plaas, soos hierdie, om die samelewing te bevry van sulke skurke.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.