ʼn Man is dood en ʼn vrou kritiek beseer ná die bestuurder van die voertuig waarin hulle gereis het na vermoede beheer oor die voertuig verloor het en die voertuig verskeie kere gerol het.
Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die voorval het net na middernag Maandagoggend plaasgevind op die Phoenix-hoofweg net voor Eastburyweg in Phoenix in Durban.
“Volgens berigte vanaf die toneel het die bestuurder beheer verloor; die voertuig het gevolglik verskeie kere gerol en op ʼn wal tot stilstand gekom,” het Herbst gesê.
Die bestuurder, ʼn man, is op die toneel dood verklaar en ʼn vroulike passasier is in ʼn kritieke toestand aangetref.
Die vrou is volgens Herbst op die toneel behandel en na die hospitaal gehaas vir verdere mediese behandeling.
Die polisie ondersoek die voorval.