Een dood, meer as 1 000 dakloos ná Kaapstad-brande

Argieffoto (Foto: SABC)

Argieffoto (Foto: SABC)

Een persoon is dood en meer as ʼn duisend mense is dakloos gelaat ná ʼn aantal brande die afgelope naweek in informele nedersettings in Kaapstad.

“ʼn 29-jarige man is Saterdag in die vroeë oggendure in ʼn brand dood in Nomzamo in die Strand,” het Wilfred Solomons-Johannes, waarnemende hoof van die Kaapstadse nooddienssentrum, Sondag gesê. Altesaam 22 mense, insluitend nege kinders, is in hierdie geval dakloos gelaat nadat sewe huise vernietig is.

Intussen is 1 300 mense in Vishoek die naweek dakloos gelaat ná ʼn brand Vrydag by die Masiphumelele informele nedersetting uitgebreek het. Meer as 250 huise is vernietig.

Daar is ook brande in Khayelitsha, Goodwood en by die Pholile Park-informele nedersetting in Llwandle in die Strand aangemeld.

Die sentrum het kos, klere, toiletware en komberse aan die slagoffers gebied. “Die plaaslike owerhede sal die brande ondersoek,” het Solomons-Johannes gesê. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.