’n Jaagtog en skietery het Woensdagoggend tussen lede van ‘n privaat sekerheidsmaatskappy en vier gewapende rowers uitgebreek nadat die rowers ’n winkel by die Atterbury Value Mart-winkelsentrum in Pretoria-Oos beroof het. Sekuriteitswagte van Brinant Group het die rowers vanaf ‘n blok van die winkelsentrum tot naby ’n veld in Waterkloof agternagesit, waar hulle toe op mekaar losgebrand het. Een van die rowers is in die proses raakgeskiet.
Die Brooklyn-gemeenskapspolisiëringsforum het Woensdag om 10:45 gewaarsku dat die polisie en verskeie sekerheidsmaatskappye die rowers in die Wolwespruit‑ en Erasmuskloof-omgewing agternagesit het. Hulle het lede van Wolwespruit, Erasmuskloof en omliggende gebiede gewaarsku om op die uitkyk te wees vir die rowers.
Die jaagtog het glo tot in Waterkloof gevorder.
Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, is paramedici om 10:54 na ’n veld langs die R50 in Waterkloof ontbied, waar die skietery tussen die polisie en die rowers glo plaasgevind het.
Met hul aankoms op die toneel het paramedici een van die rowers dood in die veld aangetref. Hy het verskeie skietwonde opgedoen en is op die toneel dood verklaar.
Meiring sê die polisie was op die toneel om ondersoek in te stel. Volgens die gemeenskapspolisiëringsforum is die ander drie rowers in hegtenis geneem. Een het later beswyk aan sy wonde.
Die Blue Hawk Tactical-veiligheidsmaatskappy het op hul Twitterblad die skietery by die Atterbury Value Mart-winkelsentrum bevestig.
Maroela Media het navraag aan kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, gerig, maar wag nog vir terugvoer.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
1 Kommentaar
Anja van der Merwe.
Jy skryf lekker lees berigte.
Vol punte vir jou.