Kapt. Sandra Janse van Rensburg, woordvoerder van die polisie, het gesê vier gewapende rowers het omstreeks 09:30 die Fischer’s juwelierswinkel in Greenacres binnegestorm. Hulle het die personeel met vuurwapens gedreig en die winkel van ʼn onbekende hoeveelheid juweliersware beroof. “Een van die vertoonvensters is gebreek toe die rowers op die vlug geslaan het,” het Janse van Rensburg gesê.
“Die verdagtes het by die winkelsentrum uitgehardloop en probeer om ʼn voertuig in die parkeerarea te kaap, maar hulle is deur polisiebeamptes voorgekeer. Die verdagtes het toe probeer om ʼn ander voertuig daar naby ook te kaap. Die bestuurder, ʼn 66-jarige man, het hom teëgesit en is doodgeskiet.”
Die verdagtes het daarna te voet gevlug en in Capeweg ʼn VW Polo gekaap. Drie van die verdagtes het in die motor gevlug, terwyl die vierde verdagte te voet gevlug het. “Die verdagtes is opgemerk toe hulle in die rigting van die taxistaanplek in Durbanweg gery het. Die polisie het hulle agternagesit en twee verdagtes is in ʼn taxi gevind en in hegtenis geneem. Twee vuurwapens en van die gesteelde juweliersware is in hul besit gevind,” het Janse van Rensburg gesê.
Die verdagte wat vroeër te voet gevlug het, is in Milpark deur ʼn veiligheidsmaatskappy in hegtenis geneem. Van die gesteelde juweliersware is later in die parkeerarea van ʼn kitskosrestaurant gevind.
Twee aanklagte van gewapende roof, twee van poging tot motorkaping, een van motorkaping, een van moord, twee van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie en ʼn aanklag van besit van gesteelde goedere word ondersoek. Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.
Gemors, nee jul is laer as dit! Julle het soveel lewens ontwrig en nog 1 vermoor, al hierdie mense het geen reg op lewe/gewone werksdag gehad nie, maar julle wat dit veroorsaak het, het nou skielik mense regte. So flippen onregverdig in n kamma demokratiese land!
Dit is tragies om te lees dat die onskuldige geskiet is, ek het so gehoop dat dit n wettelose parasiet is. Sterkte aan die familie.
Moor,steel en verkrag wanneer word die wet hersien vir langer termyne vir ernstige misdade maar dan sal die staat seker twee nuwe tronke in elke dorp in Suid Afrika moet bou
Benewens die tragiek van die gebeure is dit weer een van ‘n paar mooi polisiestories waarvan vertel word die afgelope tyd. Daar is toe nie net kroeks in die polisie nie maar ook mense wat hul werk (deeglik!) doen.
Nou moet die goeie polisiemanne net die baddies tussen hulle vang dan kan ons weer die polisie vertrou.
So tragies dat i lid vd Publiek wat sy eiendom wou beskerm d prys moes betaal vir d rowers se misdaad.