Een dood ná skietgeveg met polisie

Argieffoto: Kent Williamson

Twee verdagtes kom binnekort in Pinetown se landdroshof voor op aanklagte van gewapende roof, poging tot moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens ná ʼn skietgeveg met die polisie.

Die twee is Maandagaand in KwaNgcolosi by Hillcrest in hegtenis geneem, sê lt.kol. Thulani Zwane, KwaZulu-Natalse polisiewoordvoerder. “Die derde verdagte is dood tydens die oor-en-weer-skietery met die polisie.”

Die polisie het beslag gelê op goedere soos sigarette en drank wat na bewering tydens ʼn rooftog op ʼn taverne gebuit is. “Ons het ook beslag gelê op ʼn polisiebeampte se vuurwapen wat die polisie kon terugkry.”

Hillcrest-polisie was Maandag omstreeks 22:00 besig met misdaadvoorkomingsoptrede in KwaNgcolosi, naby Pinetown, toe hulle by ʼn winkel naby Mkhulu se taverne stilgehou het, sê Zwane. Een van die beamptes het die winkel binnegegaan, onbewus van die rooftog wat in die taverne aan die gang was.

“Terwyl hy by die plek ingestap het, het ʼn groep verdagtes hom oorval en sy dienspistool afgeneem. Die verdagtes het in hul wegkomvoertuig op die vlug geslaan met gesteelde goedere soos sigarette, drank, kontant en selfone.”

Die polisiebeamptes se kollegas het hulle agternagesit. Tydens die jaagtog is glo oor en weer geskiet.

Die verdagtes se voertuig het glo gaan staan, waarna hulle te voet probeer wegkom het terwyl hulle steeds op die polisie losgebrand het.

“Die polisie het teruggeskiet. Een verdagte is noodlottig gewond en ʼn tweede een beseer,” sê Zwane. Die derde verdagte is later deur beamptes van die honde-eenheid in hegtenis geneem.

Die beseerde verdagte is onder polisiebewaking in die hospitaal opgeneem.

Twee vuurwapens is teruggekry, onder meer die een wat by die polisiebeampte afgeneem is.

Zwane sê die verdagtes sal ondersoek word om vas te stel of hulle met enige ander misdade verbind kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hoe nou.... ·

Klink my die hospitale raak ook nou vol misdadigers….nie net die tronke nie….SAPS moet leer skiet.

jaco ·

gelukkig is karma nie gepla met menseregte as dit kom by die doodstraf vir misdadigers nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.